EK het net meer as twee jaar gelede gelamineerde houtvloere laat installeer. So vyf maande terug het ons agtergekom dat daar kwaliteit probleme mag wees.
Die vloere is deur ’n franchise van Millennium Floor Coverings geïnstalleer.
Onlangs het ons gesien dat die planke op die laste wegskuif van mekaar.
Toe ons die franchise-eienaar kontak, was hy nie meer in die bedryf nie en het hy ons na die eienaar van Millennium Floor Coverings (Morné van Tonder) verwys.
Daar is aanvanklik ’n junior uitgestuur wat wou sinspeel dat dit waterskade is.
Nadat ’n paar opinies ingewin is, het ons ’n afspraak met mnr Van Tonder by ons woning te Wellington gereël. Hy het onmiddellik erken dat daar iets fout is.
Die saak is deur hom opgeneem met die verskaffer van die produk, met geen sukses. Dit is toe dat hy bevestig het dat hy volle verantwoordelikheid neem en ons sal vergoed, maar op voorwaarde dat hy die produk kies.
Verlede week is die volledige installasie gedoen teen geen koste.
Dit is werklik ’n plesier om nog met sulke sakemanne geassosieer te kan wees, veral in vandag se tyd waar mense nie geneig is om verantwoordelikheid te aanvaar nie.
Kiffie Henderson