Rugbytelbord
2011-06-30
VEGGEES TREK ALLANDALE DEUR Allandale het Saterdag vir die eerste keer sedert die begin van die streek-kompetisie daarin geslaag om vir Windmeul United op hul tuisveld te wen. Allandale het vir ’n groot gedeelte van die wedstryd agtergeloop, maar goeie veggees deur meeste van die senior spelers het uiteindelik gesorg dat hulle met 25-22 gewen het. Voorlangs het Biggy Lionel, Ricko Hollenbach en Jerry Fredericks ’n barshou gespeel en agterlangs was Ricky Nortjé, Wade Engel en Cullen Jacobs vol planne. Drieë is gedruk deur Hollenbach, Ys Moses en Jontas Dampies. Ricky Nortjé was suksesvol met 2 doelskoppe en 2 strafskoppe. ) BLUES HAAK KNOOP DEUR Ondanks swak besluitneming deur sommige van Laer-Paarl (Blues) se eerstespan-rugbyspelers kon hulle wel daarin slaag om die knoop deur te haak en vir Young Standards Saterdag met 19-16 te wen. Drieë vir die Blues is gedruk deur Guron Kulsen en Wayne Afrika. Blues is ook beloon met ’n strafdrie. Delwayne Cornelissen het ook met twee doelskoppe geslaag. Blues se tweede span het met 10-11 en die derde span met 0-40 verloor. Ná 10 wedstryde (1ste ronde) het Blues 44 punte, gevolg deur Vineyards met 43 punte. Hulle tweede en derde spanne is albei in die derde plek met onderskeidelik 29 en 31 punte. ) NEWTON WEN DERBY Newton het Saterdag sy derbywedstryd met 20-10 teen Evergreens van Agter-Paarl gewen. Newton se voorspelers het die wedstryd gedomineer. ) PRIMROSE KLOP PNIELSPAN Die Pniel-manne moes vir die tweede agtereenvolgende week met ’n verloor tevrede wees nadat die Primrose-klub van Crawford dit reggekry het om al vier spanne van Pniel te klop. Wat die eerste span se wedstryd betref, was die telling 25-14, maar daar moet ook bygesê word dat Pniel met ’n erg verswakte span gespeel het nadat ses eerste keuse spelers weens siekte en beserings onttrek het. Dit het tot gevolg gehad dat die ritme van die besoekers heeltemal ontwrig was, want verskeie posisionele verskuiwings moes gemaak word en dit het ook daartoe bygedra dat die ander spanne ook geaffekteer is. Swak dissipline by die afbreekpunte het ook tot die verloor bygedra, want nie minder as agt strafskoppe binne die besoekers se kwartgebied is afgestaan waarvan vyf in punte omskep is. Die rustydtelling was 13-7. Drieë is gedruk deur Byron Schoeman en Strafred Geldenhuys terwyl Dimitri Noble en Eaton Cyster elk met ’n doelskop geslaag het.
More
News
|