“LEERDERSKAPPE het eksklusief geraak vir ’n uitgesoekte groepie jongmense en ons gaan die nood aanspreek.” So sę dr Karien Lubbe, hoof uitvoerende beampte van CEFA in Wellington.
Die huidige stelsel van leerderskapopleiding (learnerships) laat baie min, indien enige, ruimte vir werkende jongmense om die kwalifikasie van maatskaplike hulpwerker te verwerf.
Maatskaplike hulpwerkers is die assistente van maatskaplike werkers, ’n broodnodige diens in Suid-Afrika.
Volgens dr Karien Lubbe, hoof uitvoerende beampte van Continuing Education For Africa (CEFA), het hierdie kwalifikasie “eksklusief” geraak vir ’n klein groepie jongmense wat bevoorreg is om deur die regering verkies te word om deel te wees van leerderskapprogramme.
“Dit is baie jammer, want daar is hoeveel jongmense daar buite wat uitgesluit word,” sę sy.
Baie van hulle werk as vrywilligers by welsynsorganisasies teen karige salarisse omdat organisasies eenvoudig net nie die fondse het om hulle behoorlik te betaal nie. Dit het ‘n bose kringloop geraak sę Lubbe.
As vrywilligers nie geregistreer is by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diens Beroepe (SACSSP) nie, kry die welsynsorganisasie nie subsidie nie en om vir subsidie te kwalifiseer moet die maatskaplike hulpwerker geregistreer wees.
Om geregistreer te wees beteken die persoon moet opgelei wees. Die huidige stelsel maak eenvoudig net nie voorsiening vir individue of klein groepe om opgelei te word nie.
Karien Lubbe bevestig dat CEFA oor die afgelope twee jaar ’n stewige databasis opgebou het van individuele leerders en kleiner groepe wat graag die opleiding wil doen.
Om hierdie leerders te probeer akkommodeer begin CEFA Saterdag 2 Julie om voornemende maatskaplike hulpwerkers te registreer en klasse aan te bied op Saterdae oor die volgende jaar.
“Ons skop af in Pinelands (Bellville) omdat dit sentraal is en Tsiba (’n private universiteit) hulle fasiliteite vir ons beskikbaar stel.
“Op die oomblik is ons vereiste dat minstens 20 studente inskryf om ons kostes te dek, maar ons verwag dat dit baie meer sal wees, gegewe al die navrae wat ons op ’n daaglikse basis ontvang.
“Ons sal wag en kyk hoe lyk die groep wat Saterdag opdaag en indien daar ’n groot genoeg groep is om ’n tweede een te regverdig, sal ons dit baie sterk oorweeg om die diens uit te brei na Paarl en Wellington,” het Lubbe gesę.
CEFA is ‘n Artikel 21, nie-winsgewende maatskappy wat as diensverskaffer by die HWSETA geakkrediteer is, met hul hoofkantoor in Wellington, maar het sedert sy ontstaan in 2004 sy dienste aansienlik uitgebrei na die res van die land.
CEFA se opleidingsprogramme is geregistreer by die Departement van Hoëronderwys en Opleiding (DHET), Umalusi, South African Qualifications Authority (SAQA) en die SA Raad vir Maatskaplikediens Diensberoepe (SACSSP).
Die opleidingsmodel is gebaseer op ’n kombinasie van gestruktureerde leer met praktiese werkervaring.
As deel van die vereistes om te kwalifiseer moet leerders bewys lewer van ’n geregistreerde maatskaplike werker wat bereid is om as mentor op te tree en wat die leerders sal help met die praktiese opleiding.
Enigiemand wat belang stel, is welkom om Rosaline Claasens te kontak vir meer besonderhede by 021 873 3998 of 072 432 1638