Albions gly teen Violets - eerste keer in 10 jaar
2011-06-30
DIE eerste rugbyspan van Albions kon Saterdag nie die nat toestande en modderveld op Dal Josafat baasraak nie en moes toe die onderspit delf teen Violets met 5-22. Van hulle bekende hardlooprugby was daar geen sprake nie en nadat hulle vir ’n dekade reeds Violets se baas was, was Violets baie in hul skik met dié oorwinning. Albions se verdediging is vroeg in die eerste helfte getoets en sodoende word Violets met ’n drie en ’n doelskop beloon om die telling 0-7 te maak. Dit was ook die rustydtelling. Met die begin van die tweede helfte het Violets weer vir Albions onkant betrap om sodoende nog 8 punte by te voeg om die telling 0-15 te maak. Met ’n veel ligter pak voorspelers het Violets op die swaar modderveld die oorhand gehad. Marshall Fredricks, Albions se losskakel, het alles probeer en het die span goed oor die voordeellyn gevat, maar op die ou einde was dit nie goed genoeg nie. Vir Albions het Fharris Adams (flank) ’n drie gedruk om die telling 5-15 te maak. Swak verdediging aan die einde van die wedstryd het toegelaat dat Violets weer kon punte aanteken om die eindtelling 5-22 te maak. Albions se tweede span verloor met 11-45. Albions het Vrydagaand ’n dans by Dalweide skool.Toegang is R20 per persoon en alle lede is welkom.
More
News
|