DIE Ou Meul-teater bied hierdie vakansie verskeie produksies aan vir die kleinspan.
) Op Saterdag 2 Julie is Hansie en Grietjie, ’n splinternuwe verwerking van ’n stok ou sprokie, te sien.
Dié klassieke sprokie is tot ’n vermaaklike toneelstuk verwerk deur Gaerin Hauptfleisch, wat ook die regie behartig en selfs een of twee verrassende verskynings op die verhoog maak.
Soos met die meeste sprokies is daar in hierdie een ook ’n nare stiefma wat haar stiefkinders se lewens vreeslik moeilik maak, so erg dat sy hulle sommer in die bos los sodat hulle nooit weer huis toe sal kan kom nie.
Gelukkig vir die kinders ontdek hulle ’n huisie in die middel van die bos wat van versiersuiker gemaak is. Natuurlik is alles nie heeltemal pluis nie en die slim kinders moet ’n plan maak om so vinnig as moontlik by die huisie weg te kom.
) Op Donderdag 7 Julie is Rooikappie en die Wolf te sien.
Soos in die sprokie dwaal Rooikappie van die pad af as sy medisyne vir haar siek ouma neem en verdwaal sy in die bos.
Hier kom sy nare Dolf die woeste wolf teë, wat blitsvinnig ’n plan smee om haar en haar siek ouma as smaaklike happie te geniet.
Gehore sal dan maar net moet sien of die houtkapper en van die ander bosbewoners wat Rooikapie teëkom haar en haar ouma kan red van die wolf se onderduimse planne.
) Pinocchio en die Towerstaf is op Saterdag 9 Julie by die Ou Meul-teater. Die stuitige kinderkarakter Pinocchio is terug met ’n nuwe lus om die wêreld te verken.
Gelukkig is pappa Geppetto altyd daar om hom op koers te hou. In hierdie avontuur is Geppetto gevra om vir die koningin ’n towerstaf as verjaarsdagpresent te maak, maar dit is ’n groot geheim.
Wanneer Pinocchio se pad egter kruis met dié van André Langvingers, eiendomsverplaser van formaat en hy hierdie geheim verklap, begin dié poppie dans. Pinocchio moet die towerstaf terugkry en dit sonder om te jok.
Al die vertonings begin om 10:00 en die kaartjies teen R40 per persoon kan bespreek word by Vicky Stemmet by 083 564 0056 of vstemmet@gmail.com.