Skok toe Laura-Lee se beskuldigdes vry loop
2011-06-30
Lise Beyers
DIE regstelsel het die nagedagtenis van ’n peuter gefaal, nadat die mense wat van moord beskuldig is, verlede week in die Kaapse Hooggeregshof ten volle vrygespreek is. Hierdie uitspraak het ook groot skok ontlok by inwoners van Paarl-Oos wat nou antwoorde wil hê oor hierdie kontroversiële uitspraak. En die polisie vrees dat lede van die gemeenskap die gereg in eie hande sal neem. Laura-Lee Groenewald was slegs 17 maande oud toe sy gesterf het aan grusame beserings wat sy klaarblyklik opgedoen het toe sy herhaaldelik verkrag is. Hierna is haar ouma, Getruida Groenewald (43) by wie sy gewoon het, se saambly-vriend, Quinton Solomons (35), in hegtenis geneem. Laura-Lee was daagliks in sy sorg. Groenewald is self kort hierna as mede-beskuldigde in hegtenis geneem. Dít het gekom nadat Solomons in Maart 2009 vir Laura-Lee na TC Newman Hospitaal geneem het en beweer het dat sy ’n maagaandoening het. Groenewald het vroeër die oggend oudergewoonte na haar werkplek gegaan by ’n ouetehuis in die Paarl. By nadere ondersoek het verpleegpersoneel gevind dat die kindjie reeds dood was. ’n Nadoodse ondersoek het gevind dat Laura-Lee so wreed verkrag en gesodomiseer was dat sy ernstige inwendige beserings opgedoen het. Sy het ook ’n ernstige kopbesering opgedoen. Daar is ook bevind dat die verkragtings oor verskeie dae gestrek het. Maar verlede week het waarnemende regter Nonkosi Saba gevind dat daar nie genoegsame bewyse is wat Solomons kan koppel aan verkragting en moord nie. Sy het egter bygevoeg dat sy sterk vermoed dat die noodlottige beserings wel toegedien is in Glasstraat deur Solomons en in die teenwoordigheid van Groenewald. “Die getuienis bewys egter nie bo redelike twyfel dat dit so is nie.” ’n Regskenner wat anoniem wil bly, het gesê dat hierdie uitspraak regstreeks gekoppel kan word aan swak forensiese speurwerk. “Wat het geword van die forensiese uitslae. Daar moes getuienis van semen op die kind óf haar klere wees. “En sy was heeldag in Solomons se teenwoordigheid, waar anders kon hierdie grusame dade plaasgevind het?” * The community of Paarl East has been shocked by the acquittal of the two suspects in the murder trial of a toddler, Laura-Lee Groenewald.
More
News
|