Man sterf in straatresies
2011-06-30
Lise Beyers
’n ONWETTIGE straatresies in Paarl-Oos het Sondagoggend die lewe van ’n man geëis. Volgens ’n polisiewoordvoerder, adj Diana Linee, het só ’n wedren omstreeks 04:30 plaasgevind aan die bopunt van Klein Drakensteinweg. Drie motors het glo hiér teen mekaar resies gejaag op die dubbelbaanpad. “Waar die pad vernou tot ’n enkelbaanpad verby Amstelhof, het een van hierdie motors teen hoë spoed teen die agterkant van ’n ander een gebots.” Bruce April (34) van Voorstraat 19, Wellington, het op die toneel aan ernstige inwendige beserings gesterf. Hy het die wit BMW bestuur wat agter in ’n blou Ford Sierra vasgery het. Volgens Linee beskik die polisie oor inligting dat ’n derde motor ook betrokke was by die resies, maar die bestuurder hiervan het die toneel inderhaas verlaat ná die ongeluk. Die bestuurder van die voertuig waarteen April gebots het, Granville Heyns, is ongedeerd. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek. April, ’n taxibestuurder, word oorleef deur drie jong kinders, Dillon (12), Zeta (8) en Illano (6). Hy word Sondag om 13:00 vanuit Voorstraat 19 begrawe en daarna om 14:00 by die VGK in Mellingstraat. Enigiemand wat die polisie verder met hul ondersoek kan help, kan adj Roger Dyason skakel by 021 877 5900. Onwettige padresiese bly ’n kopseer in veral die Paarl en Paarl-Oos areas. Onlangs het Paarl Post verskeie briewe en oproepe ontvang van inwoners naby die Parys-pad, asook Klein Drakensteinweg, wat kla oor hierdie middernagtelike bedrywighede. Talle vrae word gevra waarom die owerhede nie daadwerklike pogings aanwend om hierdie euwel te beveg nie. ’n Woordvoerder van die Drakenstein verkeersafdeling, Stuart Adams, het vandeesweek die voorval betreur. Hy het gesê dat dit juis teleurstellend is, omdat die verkeersowerhede tydens die naweek talle wetstoepassingoperasies gehou het in die Paarl en Paarl-Oos om onwettige optredes op plaaslike paaie te bekamp. “Ons het deurgaans sigbare polisiëring gehandhaaf en talle boetes uitgeskryf aan motoriste wat die wette van die pad verbreek het. “Ons het Sondagoggend om 04:00 van diens afgegaan en kort hierna het hierdie voorval plaasgevind.” * A father of three has died in a car crash, allegedly during a street race.
More
News
|