Aangeval
2011-06-30
Lise Beyers
’n MODDERBESMEERDE dief is Saterdag vasgetrek op ’n plaas naby Wellington, nadat hy op heterdaad betrap is terwyl hy huisbraak gepleeg het. Nicolaas en Ina Hanekom het Saterdagmiddag vanaf die dorp tuis gekom op die plaas Brakfontein op die Lady Lochpad. Hulle het die plaas opgepas terwyl hul seun, Nicolaas jr. en hul skoondogter, Angelique, met vakansie was. Met hul aankoms in die plaashuis, het alles normaal gelyk behalwe dat Ina opgelet het dat daar modderspore op die kombuisvloer was, asook roet op die toonbanke. “Ek kon dit nie verstaan nie,” vertel Ina, “en ek het sommer begin skoon maak.” Maar terwyl Nicolaas buite besig was om af te pak, het ’n jong man gewapen met ’n tuisgemaakte mes voor Ina verskyn en vir haar beduie om stil te bly. “Dit kon ek nie doen nie en ek het begin skree, soveel so dat my keel seer was.” Nicolaas het die huis binnegestorm en hy en die vermeende dief het mekaar toegetakel. Maar die 71-jarige Nicolaas se ouderdom staan nie in sy pad nie en hy het die oorhand gekry oor die dief. Hiertydens is Nicolaas egter verskeie kere in die kop gesteek en soos wat die stoeiery in die huis se gang af beweeg het, so is die mure vol van sy bloed bespat. “Ek was blind van woede”, vertel hy. Intussen is Ina agter hulle aan en het die man met ’n bak teen die kop geslaan om hom te probeer verwilder, maar sy is in die proses met die tuisgemaakte mes teen die voorkop getref. Kort hierna het die aanvaller gevlug. Ina het ’n buurman geskakel wat op sy beurt die polisie gekontak het, asook ander buurplase. ’n Huishuurder op die plaas het aangery gekom, asook nog ’n buurman. Plaaskinders wat die verdagte sien ontsnap het, het hulle in die aanvaller se rigting gewys. Met die spoedige aankoms van die polisie was die soektog in volle gang en die voortvlugtige is vinnig in ’n sloot naby die plaashuis opgespoor. Maar ieder en elk kon nie help om te lag toe hulle die vreemde verskynsel aanskou nie, want die verdagte was poedelnakend kaal en van kop tot toon besmeer met modder. Hy het glo sy klere in die vlug uitgetrek om sodoende die polisiehonde te probeer fnuik. Hierna het hy in ’n modderpoel geduik, in die hoop om hom heeltemal te vermom. Maar sy poging was verniet en hy het kaal en modderbesmeerd agter in ’n patrolliewa beland. Wilfred Pietersen (22) wat woonagtig is op ’n plaas op die Haaskraalpad, is in hegtenis geneem en aangekla vir ernstige aanranding en huisbraak. Ina en Nicolaas het hospitaalbehandeling geweier en is eerder deur ’n dokter op Wellington behandel. Nicolaas se kopwonde is met 60 steke toegewerk. By nadere ondersoek is daar vasgestel dat Pietersen eers by ’n skoorsteen toegang tot die huis wou kry, voordat hy ’n venster bo-kant die voordeur gebreek het. Dit is hoekom daar roet binne die huis was. Intussen is Nicolaas jr. en sy vrou wat dieselfde oggend met vakansie vertrek het na die Noord-Kaap, van die aanval in kennis gestel. Maar hulle is deur vriende gerus gestel dat die situasie onder beheer is en dat hulle ouers in goeie hande is. Hulle het die volgende dag na Wellington teruggekeer. Alhoewel die Hanekoms vandeesweek steeds emosioneel was oor hul skok-ervaring, kon hulle nie uitgepraat raak oor die puik optrede van die polisie en die hulpvaardigheid en bystand van Brakfontein se bure nie. “Die polisie se optrede was blitsvinnig en al wat ’n inwoner van die gebied is, het ons deurgaans bygestaan. Dit is goed om te weet dat mense nog omgee.” (Sien berig oor nog ’n aanval op bl 5) * An elderly couple was attacked on a farm near Wellington on Saturday.
More
News
|