Beste in Suid-Afrika
2011-06-30
Sieb Sieberhagen
VIR Chantley Wiese (16) van die Paarl het harde werk en ure se oefening uiteindelik die resultate opgelewer waarvoor hy gehoop het. Sy puik prestasies op die karatemat maak hom ook die Let’s Play en Paarl Post se Sportster vir Junie 2011. Dié leerder van Boishaai is na afloop van die SA kadet/junior en senior karate-kampioenskappe in Port Elizabeth aangewys as die SA Junior Kata en Unison-kampioen. Op 5-jarige ouderdom het hy begin met karate nadat sy broer Cheslin en sy niggie Celeske Basson, die karate-vuurtjie aangesteek het. Hy het later by Patrick Ross se Hayashi-Ha Shitu-Ryu-karateklub aangesluit en in 2004 reeds aan sy eerste toernooi deelgeneem. Op 10-jarige ouderdom en met ’n groen gordel agter sy naam, het hy by die toernooi reeds met twee brons medaljes weggestap. Deesdae neem hy gemiddeld aan 5 toernooie per jaar deel en sal hy ook eersdaags weet of hy vir sy swart gordel gekwalifiseer het. Verlede jaar het hy reeds begin proe-proe aan wat dit is om onder die bestes te tel toe hy met ’n derde plek by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe weggestap het. Vanjaar is hy uit 21 karateka wat in sy afdeling deelgeneem het, as die beste aangewys. “’n Ou moet fiks wees om dit te doen,” vertel hy. Die kata’s waaraan hy deelneem, duur 90 sekondes en in dié tyd doen hy meer as 50 bewegings. “Dit neem geweldige inspanning en konsentrasie,” vertel hy. Chantley vertel dat hy omtrent 20 verskillende kata’s ken en hoop om eersdaags oorsee deel te neem.
More
News
|