EK was bevoorreg om as jong laerskoolkind te leer by my broer, die musikant Philip (Sakkie) Marthinussen, wat onlangs oorlede is.
Waar musiek was het hy my altyd saamgeneem. So het ek as kadet in die Wellington Anglican Church Brigade beland wat gestaan het onder leiding van wyle Isaac Poole, waar hy alreeds ’n leier was as kaptein.
Ek het van jongsaf ervaar dat hy ’n baie streng, reguit en eerlike leier was. Hy het toe reeds ook die fluit bespeel in die Brigade.
Na die Brigade het hy ’n ander vorm van musiek betree – die Kersfees-orkes. Daar het hy die alto-saksofoon bespeel. Weer eens het sy leierseienskappe na vore gekom en hy is aangestel as orkesleier in Good Hopes Kersfeesorkes wat ontstaan het in Polonydorp (later bekend as Die Akkers) op Wellington.
Soos dit moes gebeur, het hy my ’n lid gemaak van die Kersfeesorkes en ek moes ’n instrument leer. Ek het toe die kitaar gekies.
Onder sy leiding het die Kersfeesorkes menige kompetisie gewen. Kersfeeskoorkompetisies is Sondae gehou op Wellington, Saron, Worcester en Ceres.
Na meer as 20 jaar het hy Good Hope Kersfeesorkes, wat toe goed gevestig was, verlaat, en sluit aan by mnr Martin Samuels om die vervalle Royal Stars Kersfeesorkes weer op te bou. Dit was ’n groot sukses onder sy leiding. Wellington het toe drie Kersfeesorkeste gehad.
Ons het ook soms die Proteas-nagtroep in Distrik Ses begelei tydens optogte wat om middernag begin het. Ek het die tjello gespeel.
Later jare het ons nuwe weiveld gesoek op die gebied van musiek. So is die Broadway Swingers dansorkes gestig deur mnr Patric Lewis, Sakkie en myself. Ek het die tromme gespeel.
Nadat ek die orkes verlaat het, het hy voortgegaan en groot hoogtes bereik. Verskeie musikante is deur die jare vervang en hy het veral jong talent gebruik.
Die kwaliteit van die orkes het elke keer net beter geword. Ek het hulle ’n paar keer genooi en hulle kon toe optree in Rehoboth en Windhoek waar ek nog vandag woonagtig is.
Sakkie se kleinkind, Gerswin Marthinussen, het toe bygekom op die klawerbord. ’n Susterskind, Ivor Marthinussen, was ook vir ’n rukkie op die baskitaar onder sy leiding.
Ek het daarna die eerste opname van die Broadway Swingers gemaak in die Paarl stadsaal. Hy het selfs met Anton Goosen en Ollie Viljoen kennis gemaak.
Ons dank aan voormalige burgemeester Herman Bailey dat hy die musiektalent in my broer raakgesien het en erkenning daaraan gegee het met toekennings.
Sy leierskap was alombekend onder musikante, want hy het sy musiek baie ernstig opgeneem. Wanneer hy ’n begrafnis bygewoon het, was sy saksofoon altyd byderhand.
Sonder om gevra te word het hy die leiding geneem saam met ander musikante om die laaste eer te bewys aan ’n ontslape musikant.
Dit was dus hartseer dat tydens sy eie begrafnis, geen musikante toegelaat was om die laaste eer te betoon nie.
Hy was ’n besonderse voorbeeld vir musikante in die musiekbedryf en ons sal dít waarvoor hy gestaan het, uitleef en aan die jonger geslag oordra: eerlikheid, stiptelikheid en om weg te bly van drank.
Ons dank die Heer vir die voorbeeldige lewe wat hy gelei het.