wantGRAAG wil ek my ontevredenheid uitspreek oor die swak diens wat ek op 29 Junie by TC Newman-daghospitaal ervaar het.
My dogterjie en nog 11 ander pasiëntjies het gegaan om tande te trek onder narkose. Hulle moes 06:45 alreeds aanmeld by die hospitaal. Sy was alreeds drie maande op ’n waglys vir die prosedure, weens tandbederf.
Aangesien ons van openbare vervoer gebruik maak en dit gereën het, moes ek iemand huur om my te neem en weer kom haal.
Ons was alreeds halfsewe daar en die kinders is deur na die sale toe, waar hulle koors ens. gemeet is. Hulle was uitgetrek en reeds in die beddens. Sommiges het verskriklik gehuil, maar my een was baie gelukkig, want sy het nie geweet wat besig was om te gebeur nie.
Die dokter het gekom en hulle ook gesien, waarna in die lêer geskryf word hulle is nou op pad teater toe. Teen daardie tyd was my dogtertjie al honger, want hulle moes na 12uur die vorige aand niks eet nie.
Daar was ’n seuntjie wat verskriklik tekere gegaan het en glad nie op die bed wou lê nie, so die dokter sou hom nou sommer eerste doen.
Ná omtrent 3 minute kom die seuntjie se mammie uit die teater en sê ons moet maar ons kinders aantrek en ons lêers terugvat na die tandarts om ’n ander datum te kry, want daar is nie SUURSTOF nie.
Daar was nog twee Xhosa-sprekende mammies en vra wat gebeur nou, en ek moes toe verduidelik.
Ons het ons kinders klaar aangetrek en was op pad na die tandarts toe kom die suster eers en sê dat dit nie hulle skuld is nie en hulle is jammer. Hoekom nie in die eerste plek vir ons ouers kom sê nie, nou stuur hulle die mammie om ons te sê?
Wat as dit ’n dringende operasie moes gewees het en daar is nie suurstof nie?
Ons is toe na die tandarts en die assistent sê dat ons nou 13 Julie by Paarl hospitaal moet aanmeld om 07:45, want ons moet weer nuwe lêers oopmaak. Ek moet nou weer verlof insit en iemand kry om my te neem.
Ek noem aan haar dat dit darem rêrig onprofessioneel is. Haar antwoord aan my is wil u hê ek moet u afspraak kanselleer, want ons kan nie daarvoor help dat daar nie suurstof was nie.
Ek wil graag my kind se tande getrek hê, so ek moet maar die minste wees.
Ontevrede ouer
Die woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid se Kaap Wynland Distrik, Jo-Anne Otto, reageer: Ons vra om verskoning vir die ervaring wat “Ontevrede Ouer” by TC Newman Dagkliniek gehad het.
Dit was al ’n geruime tyd bekend dat die dagteater by TC Newman Dagkliniek op 30 Junie sou sluit. Hierdie teater is slegs vir beplande operasies, soos tandetrek, gebruik en sedert die herbouing van Paarl Hospitaal word daar glad nie meer noodoperasies uitgevoer nie.
Alhoewel daar meer as genoeg suurstof vooraf bestel is om te verseker dat al die beplande operasies voort kan gaan tot en met die beplande sluiting, het daar op die oggend van 29 Junie ’n stuurstof-waarskuwingsliggie in die teater aangegaan.
Aangesien die teaters die volgende dag in elk geval sou sluit om die beplande strukturele veranderinge aan te bring, het die kliniek die besluit geneem om nie die risiko te neem om voort te gaan met die operasies nie, ingeval daar gedurende die roetine-prosedures iets verkeerd loop wat in ’n noodsituasie kan ontwikkel. Ons sal altyd pasiëntveiligheid eerste stel.
Dit is hierdie oorwegings wat daartoe gelei het dat die teaters summier gesluit is en die beplande operasies vir 29 en 30 Junie gekanselleer is.
Dit is wel so dat hierdie besluit nie op ’n professionele manier aan die ouers van die pasiënte gekommunikeer is nie en daarvoor vra ons opreg om verskoning.
Indien enige kliënt onseker is van enige prosedure, gesels gerus met die verpleegkundige of die geneesheer wat u verwys.