Roses skuif weer na bo
2011-07-07
DIE Boland Premierliga-kampioen van 2010, Roses United, het verlede Saterdag op Pelikaanpark die span van Abbotsdale met 33-8 geklop en sodoende sy posisie bo-aan die punteleer herwin. Die koue en nat toestande in Wellington het egter aantreklike hardlooprugby onmoontlik gemaak. Die besoekers het in die eerste helfte verras deur die Rose goed in toom te hou. Roses se agterspelers het gesukkel met hulle aangeë en sodoende verskeie maklike kanse vir drieë verlore laat gaan. Net ná rustyd het die besoekers teen alle verwagting in met 8-7 voorgeloop, maar hierna het Roses goed teruggekom met vurige spel deur sy agttal. Veral Bjorgen Julies (loskopstut) en Geoffrey Allies (loskopflank) het goeie spel gelewer. Gerhardus Goosen (vaskopflank) het ook weer sy klas gewys met uithalerspel. Die Rose se skrumwerk was Saterdag ook indrukwekkend. Agterlangs het Gershwin Moses (binnesenter) en die Rose se ervare heelagter, Manie Adams, indrukwekkende spel gelewer. Neville Adams (skrumskakel) het ook met flink diens in die tweede helfte verseker dat die Rose se agterspelers hulle teenstanders gedurig op die agtervoet gehou het. Vir die Rose het Julies, Moses (2), Goosen en Denver Fortuin drieë gedruk. Wayne Matthee was in die kol met vier doelskoppe. Roses United se tweede en derde spanne het hulle wedstryde met onderskeidelik 25-6 en 12-11 gewen. Roses pak eerskomende Saterdag sy buurman, CPUT-Wellington in ’n derby-wedstryd. Roses sal moet lugtig wees vir die manne van CPUT- Wellington aangesien hulle gewoonlik sy beste spel vir die derby bêre. Verder is daar boonop baie eer verbonde aan die tradisionele derby-wedstryd tussen die twee topspanne op die dorp. Die weerdiens voorspel lekker warm weer en dit maak die speelveld gelyk vir lekker hardlooprugby. Toeskouers kan hulle maar weer klaarmaak vir ’n lekker stryd. Die hekke op Pelikaanpark open om 12:00 en die hoofwedstryd begin om 16:00.
More
News
|