Meeste nog van Paarl in Berg
2011-07-07
Sieb Sieberhagen
NIE net is daar vanjaar ’n rekordgetal inskrywings vir die Windhoek Bergrivier kanomarathon nie (350), maar ook vir die Paarl-kanoklub is dit die meeste nog. Vanjaar gaan 41 Paarliete aan dié wedvaart deelneem, wat vir die vyftigste keer aangebied word en duime word vasgehou dat Heindrich Schloms van die Paarl, wat verlede jaar in die derde plek klaargemaak het, vanjaar die pyp gaan rook. Een van sy grootste teenstanders is die wenner van die afgelope ses jaar, Hank McGregor van Kwazulu-Natal. Soos wat die top roeiers hulle lippe aflek vir die grootste kampioenskappryse in die geskiedenis van die Berg, kan geesdriftiges reeds Dinsdag tussen die Mark- en Langstraat-brûe saamtrek om na die tydtoetse te kyk. Die tydtoetse begin om 15:00 en sal tot 16:30 duur, waarna die Paarl se burgemeester, Gesie van Deventer, die eerste geeltrui aan die wenner sal oorhandig. Sewentig roeiers sal aan die tydtoetse deelneem. Buiten die skof- en spanpryse gaan die manlike en vroulike wenner vanjaar R35 000 elk in hulle sakke steek. Met die nuwe struktuur kan ’n roeier wat die wedvaart oorheers deur die tydtoetse-, skof- en brugprys te verower, ’n bykomende R88 000 in sy sak steek. Die marathon begin Woensdag (13 Julie) om 09:30 wanneer Van Deventer die roeiers by die Markstraatburg sal afsit. Verskeie roeiers van die Paarl word uitgesonder om vanjaar goed te doen. “’n Junior roeier soos Divieano Pietersen behoort goed te vaar. Hy was in 2010 die tweede junior oor die wenstreep,” sê Herbert Conradie, voorsitter van die Paarl-kanoklub. Conradie sê ook dat Joseph Williams, wat verlede jaar die koning onder die juniors was, in die o.21-afdeling koning kan kraai. “Donnie Malherbe, wat drie jaar gelede as veteraan derde gekom het en vanjaar in die sub-meestersafdeling deelneem, gaan ook van die gunstelinge in vanjaar se wedvaart harde bene laat kou. Hy kan baie maklik ’n plek losroei. “Van ons top juniors, wat in snelroei spesialiseer, sal ook aan die aflos-kompetisie deelneem. Luke Stowman, Danie Buys en Michael-Lee Farringer sal in dié kompetisie baie goed doen,” voorspel Conradie. Heindrich Schloms word deur Paarl roeiers gereken as een van die gunstelinge om die mans-ope te wen. Schloms reken op sy beurt dat daar ten minste 11 roeiers is wat vanjaar die titel kan wegraap. Schloms, wat vir Team Hauptfleisch roei, sê dat dit baie goed gegaan het met sy voorbereiding, maar dat die groot baklei volgende Woensdag gaan begin. “Vanjaar is daar sterk roeiers en ek sal baie sterk steun op my span wat bestaan uit Ernest van der Riet, Donnie Malherbe (Paarl) en Gert van Deventer wat tans in Engeland roei. Dit is veral later in die wedvaart, met die oop rivier, waar spanwerk belangrik sal wees,” sê hy. Die Paarliete wat gaan deelneem, is Burger Coetzee, Allen Goosen, Francis Steyn, Hannes van der Westhuyzen, Giel van Deventer, Piet van der Westhuyzen, Ryan Bradbury, Heinrich Schloms, Gerhard Maree, Francois du Toit, JT Basson, Justin Swart, Etienne Buys, Giepie van der Spuy, Michael Kock, Conrad Schutte, Eric Farringer, Petrus Steinberg, Adrian Berry, Charlie Heatlie, Gert Coetzee, Wayne August, Emile Minnaar, Niklas Tiras, Joseph Williams, Divieano Pietersen, Marcel Basson, Willem Brink, Herbert Conradie, Riaan Manser, Michael-Lee Farringer, Craig Tilsley, Mynhardt Marais, Donnie Malherbe, Mias van der Westhuyzen, Daniel Buys, Luke Stowman, Christo Kotze, Francois van der Merwe, Alan Nelson en Johan Swart.
More
News
|