NÁ 27 jaar van diens aan die gemeenskap het die “Sunshine Ladies” op 30 Junie hul laaste bekertjie sop by TC Newman-daghospitaal geskep.
Die groepie, gestig onder leiding van Nuraan Ebrahim, Joyce Davey en wyle Karel Roodman, het 27 jaar lank hul harte oopgemaak vir die pasiënte en personeel by TC Newman-hospitaal in die Paarl. Dié daghospitaal is onlangs opgeknap en kry nou sy eie kafeteria.
Dié groep vrywilligers van verskillende kerke en welsynsorganisasies het destyds pasiënte by die Paarl-hospitaal en TC Newman voorsien van waslappies, seep, tandeborsels en ander benodigdhede.
Hulle het selfs pasiënte se hare gewas en gekam en boodskappe oorgedra aan familie van pasiënte wat van ver was.
Van Maandag tot Vrydag het hulle ook sop teen ’n minimale bedrag aan pasiënte en verpleegsters verkoop.
Oor die jare het lede uitgetree en nuwe lede bygekom, maar van die stigterslede was steeds betrokke.
Meer as 60 vrywilligers het hierdie jaar in diens van die Sunshine Ladies gestaan. Die groep se eerste voorsitter was May van Sitters en die ondervoorsitter was Joyce de Wee. De Wee het ook vir ’n tydperk waargeneem as voorsitter. Die mees onlangse voorsitter was Lizzy Warries en die ondervoorsitter was Fatima Baker.
Dié groep het elke derde Maandag van die maand vergader, waar elke lid ’n bydrae gegee het, wat dan aan die einde van die jaar gekenk is aan welwillendheidsorganisasies soos Hospice, Bowy House, Kindersorg, vir straatkinders, sentrums vir gestremdes en vele meer.
Die grootste bedrag van die geld wat ingesamel is, is jaarliks aan TC Newman Hospitaal geskenk.
Met hul afsluiting verlede Donderdag is ’n kers aangesteek ter nagedagtenis aan lede wat reeds oorlede is. Hulle het ook ’n horlosie vir die hospitaal se voorportaal geskenk.