Uiteindelik ’n huis en tuin ná meer as 20 jaar
2011-07-07
Lise Beyers
VIR ’n gesin van Paarl-Oos was die moontlikheid van ’n eie huis nog altyd net ’n droom. Maar verlede week het hierdie droom waar geword, toe die sleutels van ’n tweeslaapkamer-huurwoonstel aan Philida (61) en Arthur Davids (56) oorhandig is. Reeds in 1989 het die Davidse hul naam op die behuisingslys geplaas, maar by navraag kon daar nooit duidelikheid aan hulle gegee word oor wanneer hulle ’n ordentlike dak oor hulle kop sou kry nie. So moes hulle en hul twee kinders deur die jare van agterkamer na agterkamer aanbeweeg en nooit kon hulle hul voete op die grond sit en sê hulle het ’n tuiste nie. Maar drie weke gelede het dinge baie vinnig begin beweeg toe hulle by gemeenskapswerker Carol Linee aangeklop het. Die Davidse het vir haar vertel van hul stryd van meer as 20 jaar om ’n huis te bekom en dat daar steeds geen lig aan die einde van die tonnel is nie. Linee het dadelik aan die werk gespring en het self navraag gedoen by die Paarl-Oos behuisingskantoor oor hul lot. Binne twee weke het sy daarin geslaag om vir die Davidse ’n blyplek te verseker, in die vorm van ’n snoesige woonstel in Colignystraat, Paarl. Dus het die trane verlede week behoorlik gevloei toe die Davidse hul intrek geneem het by hul nuwe tuiste. Nie net is daar twee ruim slaapkamers nie, maar hulle spog nou vir die eerste keer met hul eie badkamer en kombuis, asook ’n snoesige woonvertrek. En hulle kan ook nie wag om hul hande vuil te kry en te werk in die tuin wat die woning versier nie. Na al dié jare van wag, hoop en bid, kan die Davidse nou met trots sê dat hulle tuis is. * Family who have been on the housing list for more than 20 years, were given a flat in Paarl last week.
More
News
|