'n `Sidecar' vol herinnering aan hartland
2005-10-27
DIE ondersteuning en liefde van ‘n eggenoot is ‘n besonderse geskenk, een wat jou baie keer dinge laat regkry en deurdruk in gevalle waar jy nie gedink het jy sou nie.
Dié ondersteuning het Wellingtonner Euodia Engels, want dit was onder andere danksy die aansporing “soggens as ek nie wou opstaan nie” van haar man, Ryno Badenhorst, wat sy die nodige afrondingswerk gedoen het aan jarelange skryfwerk en vandeesweek haar boek “Riemvasmaak - hartland, harde land” vol herinneringe aan die Boesmanland, kon bekend stel.
Al ken mens dié twéé, wat albei hul eerste geliefde lewensmaats enkele jare gelede aan die dood moes afstaan, nie baie goed nie, wèèt mens eenvoudig net hoe trots Ryno op sy vrou is.
Hy’t darem ook ‘n aandeel aan die boek - van sy foto’s verskyn naas die reisjoernalis Pieter Oosthuizen s’n ter illustrasie van die landskap.
Terwyl sy op die telefoon is met haar uitgewer van Hemel en See Boeke, lees hy skelm-skelm van haar ongepubliseerde gedigte voor, wys in die sitkamer rond wat haar kreatiewe hand alles gemaak het en vertel hoe passievol sy oor haar geboortegrond Biesjiespoort voel wat aan Riemvasmaak grens.
En vertel hoe die medisyne haar kreatiwiteit so belemmer.
Dié kleine 69-jarige vroutjie wat swaar stap van rugpyn, veg hard vir haar lewenskrag en gesondheid sodat sy nie “met slap hakskene... diep spore innie sand sta sleep nie”.
“Riemvasmaak - hartland, harde land” gee ‘n menslike blik op die geskiedenis van dié streek se mense naby die Augrabies waterval en Kakamas wat in 1974 deur die destydse regering gedwing is om in Damaraland in Noord-Namibië te hervestig om plek te maak vir ‘n militêre toetsterrein.
“Ek’t dit in gedigvorm geskryf, want dis makliker as storiestyl,” verduidelik sy.
Dit bevat onder andere fonetiese Nama Afrikaanse gedigte en kortverhale, lieflike woorde wat ‘n stadige lees verg om die poëties-mooie metafore van dié Noord-Kaapse mense te laat insink.
Bybelse intertekstualiteit is sterk in dié gelowige vrou se weergawe van die geskiedenis van die Riemvasmakers.
Daar’s Riemvasmaak mettie skepping sam en Weg an Trig wat vertel hoe die mense moes rondtrek soos die Israeliete van ouds uit Egipte. An onse siele weggevat yt onse lywe yt.
Die stofomslag van die boek verduidelik die inspirasie agter die teks: “Die swaarkry van mens en dier in die droë, bergagtige gebied van Riemvasmaak lê Euodia baie na aan die hart. Sy ken ook die verlange van die ou Riemvasmakers na hul stukkie rooi aarde - die plaas Biesjiespoort is in 1996 verkoop nadat dit 100 jaar in besit van die Beukes-familie was. Met hierdie skrywe is dit haar wens om ‘n bydrae te maak tot die uitbouing van die inwoners se menswaardigheid, hulle toeristebedryf en die wil om die verantwoordelikheid vir hul voortbestaan te aanvaar.”
“Toe ons moes afskeid neem van die plaas, toe besef ek hoe moes die mense van Riemvasmaak gevoel het toe hulle hul goeters moes saambondel.”
Darie diep sand vannie Damaraland/ wassie ‘n Riemvasmaker se bewoortplekie.
“Hulle moes nes ek ook net so huis toe verlang het, en het ook nie ‘n sê gehad in die skuif nie - ek ook nie.”
Diep in onse ingewanne/ hettie groot an diep verlangste na ons eige blyplek/ net sis hoenetjies innie kafhoop nesgaskrop./ Ons siele kennie ris of dierte nie./ Ons wil elke tyd net hystoe gan - na ons eige hyse toe.
Vir haar is dit baie eenvoudig: ‘n Boorling vannie Riemvasmaak kannie op ‘n anner plek loop sta aard nie. Hy kom altyd weer trig hystoe.
Twintig jaar later is hulle ná baie leë beloftes oor huise en teerstrate weer teruggevat Riemvasmaak toe, waar ‘n lewe van kospakkies en weermagtente hulle begroet het by die grond waarna hulle so passievol terugverlang het.
Aan dié dun boekie van 80 bladsye wat sy “absoluut net vir myself geskryf het” werk sy al jare lank, maar het nooit gedink dat “dié simpel goed” publiseerbaar sou wees nie.
Sy wys briewe uit die tagtigs waarin haar dramaturgbroer en voormalige Hertzogpryswenner prof Gerhard Beukes haar reeds aanpor om die tekste te finaliseer en af te rond vir publikasie.
Dié voormalige remediërende onderwyseres wat uit ‘n familie van pedagoë kom, is ook die skryfster van kinderverhale vir tydskrifte en werkboeke vir junior primêre leerders met leerprobleme. Sy’t hiervoor die Shell-prys vir opvoedkundige artikels twee keer gewen.
Dis eers ná die publikasie van Hans du Plessis se Griekwapsalms wat sy besef het dat daar dalk ‘n leesmark vir haar pennevrug is.
Op ‘n vorige besoek aan haar geboortestreek, het Ryno die saadjie geplant om mooi foto’s te neem van die streek en “net kort gediggies onder elkeen” te gebruik.
Aan die begin van die jaar, toe sy weer met kanker in die hospitaal was, het Ryno aan haar begin por om die werk te voltooi en te publiseer.
Sy’t dit aan mede-Wellingtonner en skrywer Winnie Rust gewys, wat op haar beurt dit aan kultuurletterkundige prof Wium van Zyl gestuur het. Almal se reaksie was oorweldigend.
Danksy Winnie, aan wie die boek saam met Ryno opgedra is, is die boek verlede Dinsdagaand op Wellington in die geselskap van jarelange vriende en familie bekend gestel.
Die mense was, saam met haar kinders, “so oneindig goed is vir my. En my kind, daar’s nog stapels gedigte.”
Genoeg om nog ‘n sidecar vol herinneringe oor die landstreek sy steeds as “huis” beskryf, te vul.
More
News
|