DIE Winelands-koor van die Paarl het sy eerste verjaardag met ’n luisterryke winterkonsert in die NG Toringkerk in die middedorp gevier.
Musiekliefhebbers van so ver as Oudtshoorn en Kaapstad het die koue trotseer om die konsert by te woon.
Die koor, onder leiding van Ivan le Kay, is in Junie verlede jaar gestig nadat ’n groepie oudonderwysers en oudlede van die destydse Paarl Schools Music Centre (vandag die Frank Pietersen Music Centre) en die Paarl/Wellington-streekkoor bymekaargekom het om in sang hulde te bring tydens die begrafnis van me Norma Norman wat by beide sentrums as sekretaresse gedien het.
Le Kay, een van die stigterslede van die musieksentrum en eerste dirigent van die Paarl/Wellington-streekkoor toe dit in 1986 gestig is, sę: “Ons het die Winelands-koor gestig om net vir die liefde te sing en die geleentheid te gebruik om mense se harte te verwarm.”
Hy sę die suksesse van die Paarl/Wellington-koor sal altyd herinner aan wat moontlik is wanneer jy opreg, toegewyd en deursettingsvermoë openbaar.
“Ons beskik oor ’n aantal wonderlike soliste soos Samantha Kulsen, Jo-Nette le Kay, Samantha Adams (soprano’s), Olivia Abrahams (alt), Danfred Jacobs (tenoor) en Nathan Thomas (bas) asook ’n begeleier duisend in Arno Jones.”
Musiek van onder andere Mozart, Rutter en Bellini het vir ’n onvergeetlike aand gesorg.
Die vertolking van Mozart se Eine Kleine Nachtmusiek (sonder woorde) was die kersie op die koek.
’n Gedeelte van die aand se opbrengs is aan die Rusoord-tehuis vir senior burgers geskenk. Volgens Le Kay word reeds hard gewerk vir die koor se Kersfeeskonsert op Saterdag 17 Desember.
Hulle beplan ook ’n toer na die Weskus in September en een na Oudtshoorn en die Tuinroete in 2012.