'Tweeling' sterf saam
2011-07-07
Lise Beyers
TWEE boesemvriendinne wat van kindsbeen onafskeidbaar was, het die afgelope naweek saam gesterf. Die tragedie het vroeg Saterdagoggend plaasgevind toe Marochelle Steenkamp en Ronelda Gennike, albei 24 jaar oud, op Du Toitskloofpas onderweg was na Worcester. Volgens Marochelle se bedroefde pa, Johan Steenkamp, het ’n ooggetuie gesien hoe ’n vragmotor wat in die teenoorgestelde rigting gery het, se hoofligte helder geskyn het. Marochelle, in wie se nuwe VW-kewer die twee jong vroue gery het, is na bewering hierdeur verblind en het beheer oor haar motor verloor en by die kruin afgerol naby die ou tonnel. Reddingswerkers wat kort hierna na die toneel ontbied is, het Marochelle se liggaam vasgepen agter die stuur gevind, maar daar was geen teken van ’n tweede persoon nie. Eers toe polisiebeamptes later die toneel gefynkam het, is Ronelda se liggaam sowat 20 meter vanaf die wrak gevind. Die twee gesinne van die oorledenes, asook die gemeenskap van Vanwyksvlei, was vandeesweek ten gronde oor die tragedie wat die lewens van hierdie twee sprankelende jong vroue geëis het. Hul ouers vertel dat hulle sedert die ouderdom van 13 jaar onafskeidbaar was, nes ’n tweeling. Hulle het in 2005 saam gematrikuleer aan Weltevrede Sekondêr. Marochelle het hierna kantoorbestuur en tegnologie studeer by CPUT op Wellington en toe as administratiewe beampte gewerk by die departement van vervoer in Kaapstad. Ronelda het by die skoonheidsafdeling van Woolworths in Paarl Mall gewerk terwyl sy boekhou gestudeer het by Boland-kollege. “My laaste herinnering van die twee is Vrydagaand toe hulle nog hier by ons geëet het. Hulle het soos sonstraaltjies om die tafel gesit en gesels en lag. Dit is ’n herinnering wat my altyd sal bybly,” sê Mauleen Steenkamp. Beide families was onbewus van hul planne om dié aand glo by vriende op Worcester te gaan kuier. “Toe die kinders nog nie teen middernag tuis was nie, het ons angstig geraak. Ons het hul selfone geskakel, maar daar was geen antwoord nie.” Omstreeks 03:00 het hul swartste oomblik aangebreek, toe ’n blou lig buite hul huis geskyn het. “Toe ons die polisievoertuig sien, het ons geweet dat iets verskrikliks gebeur het.” Sedertdien het boodskappe van medelye aanhoudend na hierdie twee families gestroom. Ronelda word oorleef deur haar ouers, Rolene Gennike en Rodney Samuels en drie broers, Chester (30), Vernol (28) en Hiran (17). Haar begrafnis vind Saterdagoggend om 10:00 vanaf die woning plaas by Crawfordstraat 65 en om 11:00 by die VGK Newton. Marochelle word oorleef deur haar ouers en ’n suster, Joanne (28). Haar begrafnis begin ook om 10:00 vanaf die woning in May-straat 40 en daarna om 11:00 by St Albans-kerk. Hierna sal beide stoete na die Wellington-begraafplaas in Champagnestraat beweeg waar die twee jong vrouens saam ter ruste gelê sal word. * Two young women of Wellington, who have been inseparable since childhood, died together in a car crash in Du Toit’s Kloof early on Saturday morning.
More
News
|