DIS Junie-reën en Lena sit in haar kleine huis gebou uit sink en hout.
Daar in die hartjie van die vlaktes, duskant die Paarl, waar somertemperature tot 45 grade styg. Maar in die winter krimp die kwik soms tot naby aan vriespunt en die wêreld raak skoon stil van die koue. Dit is waar Lena woon en haar dae tel.
Vyf jaar gelede is sy gediagnoseer met MIV. Sy het nie mooi verstaan wat hierdie letters beteken nie, totdat dit verander het na Vigs. En steeds het sy gedink dat dit ’n kwaal is wat dalk met ’n paar Panado’s genees sal word.
Maar vandag sit Lena met Vigs wat in volle swang is en kinders in die kraal vir wie sy so hard probeer het om ’n beter lewe te verseker.
Sy is ’n trotse vrou. Al sukkel sy vandag om ’n paar tree te neem, is haar nederige huisie pynlik netjies.
Haar storie klink bekend. Swaar grootgeword in Namakwaland en as 15-jarige nader aan die stad getrek om vir haar familie ’n bietjie finansiële bystand te bring.
Hier het die groot lewe haar beetgepak, mans, drank en seks.
Gou was daar ’n voorkind waarvan die pa onbekend was. Daarna het die pa van die ander gekom en hiermee ook die begin van die einde.
Vir ’n jaar of twee gaan dinge goed, maar toe verloor hy sy werk. Sy volg hom na die Paarl met die kroos wat reeds op 4 staan.
Sy’s skaars 23 en ver van haar mense. Hy verdwyn vir weke op ’n slag en sy skraap maar die bietjie wat sy kon bymekaar om ’n tuiste vir haar kinders te skep.
Uiteindelik kom die nuus dat haar man in die tronk is. Messteek wat tot manslag gelei het.
Vyf jaar later klop iemand aan haar deur en dis hy.
Dis nie meer die man op wie sy destyds verlief geraak het nie. Daai skelm, verleidelike flikker van die oog is weg, asook die sagtheid wat eens in sy stem was as hy vir Lena gefluister het nie.
Sy gesig is hard en tatoeëermerke seil oor sy vel soos ’n afskuwelike slang. Die tronk het hom hard gemaak.
En hy het nie alleen huis toe gekom nie. Saam met hom was die groot siekte wat hy vanaf die tronk gebring het.
Keer op keer is sy deur hom verkrag in sy dronkenskap. En as hy die meisiekinders se kamers nader, het sy haarself soos ’n maagd onder sy lende gegooi.
Vader, laat hy net my meisies uitlos, het sy gebid.
Keer op keer laat kom sy die polisie as hy in sy dronkenskap haar slaan en die huis verwoes. Maar hulle wil nie betrokke raak by huishoudelike moles nie.
Uit desperaatheid bekom sy ’n hofbevel teen hom om nie naby haar en haar kinders te kom nie.
Maar hy kom keer op keer terug. En soos die groot siekte haar al hoe meer beetpak, so ook kan sy nie meer teen hom baklei nie. Sy probeer, maar is te swak.
Vir ’n paar jaar het haar twee dogters die smalle weg gekies. Maar die druk van hul vriende het te veel geraak. Haar seuns het ook lankal die pad gevat.
Vandag sit sy alleen in haar netjiese sinkhuis, met net die siekte om haar.
Sy steier as sy staan, maar sy sê sy kan nie heeldag sit en niks doen nie. Sy lig haar romp en wys die sere wat niks meer kan heel nie.
Die foto’s van haar verlede hang trots teen die mure. En wanneer sy met diep verlange na hulle kyk, weet sy dat haar lewe verby is: die drome wat sy as jong kind gehad het om in ’n spogwinkel soos Garlicks of Stuttafords te werk. Om haar kinders te sien presteer en ’n beter lewe te hê. Om eendag kleinkinders snoesig in haar arms vas te hou.
Nou sit Lena alleen. Kinders op straat en haar man óf in die tronk, óf by ’n ander vrou. En soos wat sy terugkyk op haar lewe, wonder sy hoeveel keer hierdie selfde storie in die toekoms herhaal gaan word.
Generasies word vorentoe gekweek wat dieselfde lyding as sy moet deurgaan. Hoop vir die volgende geslag is lankal nie meer ’n werklikheid nie.
En ’n gevoel van hopeloosheid daal oor haar en vreet nog erger aan haar siel as die siekte waarmee sy leef.