Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Naelbyt-affêre in Peoples en Pnielstryd

Naelbyt-affêre in Peoples en Pnielstryd
 
2011-07-14


DIT was amper soos twee swaargewigte in die bokskryt toe Young Peoples en Pniel Villagers mekaar Saterdag op die Dal Josafat-stadion in hul derby-wedstryd gepak het en die een die ander die heeltyd wou uitoorlê en net nie wou bes gee nie. Peoples het uiteindelik met 43-40 gewen.

Op die ou einde was daar nie ’n uitklophou geplant nie, al het dit op een staduim gelyk asof Peoples dit met hardlooprugby gaan regkry en Villagers in die tweede helfte dit met rolmaalbewegings gaan regkry.

Ná ’n goeie agterlynbeweging het die senter, Jacques Bantam, die Tiere se eerste drie gaan druk wat deur Dominic Daniels verdoel is. Die span van Pniel het egter nie gaan lê nie en die ervare skrumskakel Eugene Francis het onder die pale gaan druk vir die besoekers.

Daarna het Young Peoples se agterspelers behoorlik die krane oopgedraai en die drieë behoorlik ingeryg. Ná ’n agterlynbeweging het die vleuel Jerome Demas onder Pniel se verdedigers uitgenael om langs die pale te gaan druk. Christopher Adams was goud werd vir die Tiere en het met ’n goedberekende dwarsskop die senter Lorenzo Jacobs toegelaat om in die hoek te gaan druk.

En toe die Pniel-ondersteuners en seker die bestuurspan ook, begin moed opgee het en selfs die spelers elke keer verslae moes omdraai om agter die pale te gaan wag vir Peoples se doelskop, het inspirasie skielik van iewers af, op hulle neergedaal. In daardie stadium was Peoples gemaklik met 24-7 voor.

Ná rustyd het die Tiere hul aanslag voortgesit. Die vleuel Leaton Martin het uit gebroke spel hoek toe genael en oorgeduik vir sy drie en die telling opgeskuif na 29-7.

Ná goeie samespel tussen voor- en agterspelers het Dominic Daniels onder die pale gaan druk om die voorsprong te rek na 36-7.

Dit is toe dat die ander bokser sy gewig en krag begin gebruik het en Peoples kort-kort teen die spreekwoordelike toue gehad het. En dit het behoorlik keer gekos, want as jy weer kyk, was die wit en rooi span weer op Peoples se doellyn.

Rolmaalbeweging ná rolmaalbeweging deur Pniel het veroorsaak dat die Tiere se voorsprong al hoe kleiner begin word het.

Ná swak dissipline het die span van Pniel uit ’n lynstaan gerolmaal en Joshlyn Jackson het Pniel se derde drie gaan druk en skielik was die telling 36-21. Met volgehoue druk het slot Dennis Ebbes ook gaan druk en Edwin du Preez het verdoel om die telling 28-36 te maak. Net hierna het Du Preez onder die verdedigers uit genael en in die hoek gaan druk om die telling 33-36 te maak.

Daniels van Peoples wou op die middellyn met ’n teenaanval begin, maar die bal is onderskep en Pniel het onder die pale gaan druk en die voortou geneem met 40- 36.

Die kaptein van die Tiere Oscar Thomas het harde woorde gehad en van toe af het die Tiere die bal weg van Pniel se voorspelers af gehou. Ná die afskop is die bal goed bemeester deur Francois Julies en ná ’n losgemaal het die skrumskakel Nankies Davids, steelkant om gebreek en Johnny van Niekerk het deurgenael om Peoples se wendrie te druk wat deur Dominic Daniels verdoel is. Eindtelling 43-40.

* Die bestuur van Pniel het intussen by die WP-rugbyunie kapsie aangeteken oor Manie Adams (heelagter) wat Peoples in Saterdag se wedstryd gebruik het, wat glo steeds by Roses United (Boland-klub) betrokke is. Jacques Heyns, voorsitter van Peoples, het bevestig dat Adams by hulle geregistreer is.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za