Saterdag pak Boland die Bulldogs
2011-07-14
Sieb Sieberhagen
GETROUE Regent Boland Kavaliers-ondersteuners wil net een ding weet en dit is hoe Loffie Elof se manne in vanjaar se Curriebeker-kompetisie gaan vaar. Eerskomende Saterdag speel die Boland in hul eerste eerstedivisie-wedstryd teen die Grens Bulldogs op Boland-stadion op Wellington. Die wedstryd begin om 16:00. “Ons is almal baie opgewonde en optimisties oor die seisoen wat kom. Ons het ’n 9 weke voorseisoen gehad wat eintlik baie lank is, maar gegewe die tydperk is daar ’n goeie gees onder die spelers. Hulle is in ’n goeie kondisie,” sê Elof. Elof reken dat die Bolanders sover goed gespeel het in hul voorbereidingswedstryde. “Almal en veral die spelers voel hulle is nou reg sodat die seisoen kan begin sodat jy jouself kan meet,” sê hy. “Die rugbypubiek mag dalk dink dat hierdie ’n maklike kompetisie is, maar dit is nie so nie. Dit is net so hard soos die premier liga. Dié spanne het dalk nie dieselfde diepte as die groter unies nie, maar wat die hardheid en fisiese aanslag van die wedstryde betref, is daar geen verskil nie,” voeg hy by. Elof het vir homself en sy span duidelike doelwitte neergepen. Hy en sy span wil graag in die uitspeelwedstryde wees en dan moontlik die promosierelugasie-wedstryde. “Om daarby uit te kom, gaan ons maar wedstryd vir wedstryd planne maak. Vir elke wedstryd stel ons vir ons doelwitte op oor wat ons wil bereik,” sê hy. Paarl Post wou weet of die Bolanders vir elke wedstryd ’n spesifieke wedstrydplan gaan hê waarop Elof laat blyk het dat daar beslis ’n basiese struktuur moet wees. “Ja, ons het ’n basiese struktuur, maar ons moet verander soos die spel aangaan. ’n Mens speel maar wat jou opponente jou toelaat. Ons doen maar analises soos dinge verander en pas elke week ons doelwitte daarby aan,” sê hy. “Die rede hoekom ons dit so doen, is omdat ons onvoorspelbaar wil wees - iets waarvan ek hou,” sê hy. Elof, wat nou in sy tweede seisoen besig is met afrigting by die Bolanders, meen hy het ’n goeie mengsel van ouer en jonger spelers. Die Bolanders se oefengroep van dertig spelers het ’n gemiddelde ouderdom van 23-24. “Dit neem omtrent drie jaar om ’n span te bou. Hulle het al twee semi-finale gespeel. Die spelers het vinniger ontwikkel as wat ek gedink het. ’n Mens kan sien dat daar vordering is, al was dit ’n bietjie te vinnig.” Elof is ook baie opgewonde oor die klubspelrs wat deurkom. Daar is nou 4 klubspelers wat in die oefengroepe opgeneem. Dat die klubspelers, soos Milroy Isaacs (flank), vir hulself ’n klein kontrak kan losspeel, is glad nie onmoontlik nie. “Vir die klubouens kan dit ’n geelwortel wees. Ons hoef nie ouens van buite af in te koop nie, ons kan spelers uit ons eie sisteme ontwikkel,” voeg hy by. “As jy praat van ervaring, het jy nog steeds ouens soos Jandro van Niekerk, Bolla Conradie, Elgar Watts en Danwel Demas. En dié spelers se entoesiasme en ondervinding vryf nogal af by die jonger outjies. Elof reken dat die nuwe borgskap van Regent fantasies is. “Dit is ’n hupstoot en dien as motivering vir die spelers. Hulle sien dat daar wel iemand is wat hulle raaksien en belang stel in wat ons doen,” sê hy. Die groot kanonne in die eerste divisie is sekerlik die Kings van die OP. “Hulle is ’n R40 miljoen span, maar dit is nie onmoontlik om hulle te klop nie. Ons was verlede jaar in so ’n situasie in die semi-finaal. Ons kon hulle in PE geklop het. Ons het drie drieë gedruk en hulle twee, net ons skopwerk pale toe was nie so goed nie. Dit is vir ons uitstekend om teen sulke spanne kompeterend te wees en hulle op die dag te wen,” sê hy. “Maar ons dink nie nou daaraan nie. Ons eerste hekkie is Saterdag teen die Grens Bulldogs,” sê hy. .
More
News
|