Karate-ster gaan na Spele
2011-07-14
Johan Nel
’n WELLINGTONSE skolier, Sheneene October, is een van die min junior Bolandse karatesterre wat volgende maand aan die Statebondspele in Australië gaan deelneem. Sheneene, ’n leerling van Bergrivier Hoërskool, gaan danksy ’n ruim borgskap deur die werkersvereniging van die Bosman Boerdery-plaas buite Wellington die toernooi kan bywoon. Volgens Patrick Ross, bekende karate-instrukteur van die Paarl, pootjie ’n gebrek aan geld jaar na jaar belowende jong Suid-Afrikaanse karatedeelnemers om geleenthede te benut om hul vaardighede in die buiteland te gaan slyp. Sheneene, wat tans in graad tien is, baat by ’n borgskap wat moontlik gemaak is deur die premie wat Bosman Boerdery ontvang het vir die verkope van Fairtrade-wyne. Sy vertrek op 25 Julie na Australië om aan die Statebondspele in karate vir juniors te gaan deelneem. “Die kanse dat Sheneene daar as junior Statebond-kampioen aangewys kan word, is baie goed,” meen Ross. “Die huidige Statebondkampioen in die senior klas is Etienne Marais van die Paarl.” Sheneene, wat tans Suid-Afrika se junior karatekampioen vir vroue is, is reeds sedert 2003 deel van ’n karate-spannetjie wat op Bosman Boerdery se plaas op die been gebring is. Oor die afgelope agt jaar het sy nie alleen tot junior vrouekampioen gevorder nie, maar sy het ook tientalle medaljes - waaronder vyf goues - gewen. Die goue medalje waarop sy die trotsste is, is die een wat sy in 2007 op ’n karatebyeenkoms in Botswana gewen het. Rita Andreas, Bosman Boerdery se personeelbestuurder, sê dat sy en al die werkers op die plaas geweldig trots op Sheneene se prestasies is. Daarom het die werkersvereniging onmiddellik aangebied om Sheneene se reiskoste ten bedrae van R23 000 te borg toe sy aangewys is as een van die Suid-Afrikaners om aan die Statebondkampioenskappe te gaan deelneem. Volgens Andreas is Bosman Boerdery waarskynlik een van die heel eerste plase in Suid-Afrika waar die werkers nie net deel is van die internasionale Fairtrade-werkersvereniging en deel in die bestuur van die plaas nie, maar waar die werkers ook volledige aandeelhouers in die maatskappy is wat die plaas bestuur. “Lank voordat die regering met planne vir swart bemagtiging en grondhervorming gekom het, was ons as werkers hier op die plaas as aandeelhouers met ’n 50% belang al deel van die bestuur van die plaas. “Dit het gemaak dat ons met borgskappe soos dié aan Sheneene, vandag ons kinders daadwerklik op ’n suksespad kan help plaas.”
More
News
|