’n KOORKONSERT van kerklike koormusiek word Saterdagaand om 19:30 in die Toringkerk gehou, ter afsluiting van vanjaar se Schützweek vir koorsangers.
Die oogmerk van die jaarlikse Schützweek is om koorsangers prakties te laat deel in die hoëvlak-instudering van onder andere kerkkantates, dubbel- en meerkorige motette van die 16de tot die 18de eeu, koorwerke met instrumentale ensembles, à capella koorwerke uit die 19de eeu en moderne eietydse komposisies.
Die SA Heinrich Schütz-vereniging, vernoem na Heinrich Schütz (1585-1672), “vader van die Evangelie-gebonde kerkmusiek”, is in 1968 gestig.
Die vereniging stel hom ten doel om die tradisie van kerklike koormusiek van die 16de eeu tot die hede, in Suider-Afrika te bevorder. Vir elke koorweek word ’n professionele koorleier spesiaal uit Duitsland genooi om die koorleiding te behartig. Hierdie jaar se koorleier is prof Christfried Brödel wat van Dresden kom.Toegang is gratis.