VYF mans is verlede week in Groot Drakenstein in hegtenis geneem in verband met skrootdiefstal.
Dit kom nadat die polisie in kennis gestel is dat skrootmetaal gesteel is op York-plaas.
Die bestuurder van die plaas het ’n beskrywing van ’n voertuig waarmee die skroot vermoedelik weggery is, aan die polisie gegee. Die voertuig is aangekeer op die R45 naby die Groot Drakenstein-polisiestasie met ’n groot hoeveelheid ysterstawe daarop.
Vyf mans tussen die ouderdomme van 19 en 20, almal van Kaapstad, is in hegtenis geneem.
’n Woordvoerder van die Groot Drakenstein se polisie, konst Rionel Uithaler, het gesê dat verdagtes dikwels ondervra word as hulle met skrootmetaal gewaar word.
“Hulle verweer is dan dat hulle bloot die metaal gekoop het vanaf individue. Dit is dus moeilik om te bewys dat hulle die goedere gesteel het. Dit bly ’n geweldige probleem en die publiek word gemaan om die polisie dadelik te skakel indien hulle enige verdagtes opmerk.”
Die Groot Drakenstein-polisie kan gekontak word by 021 874 8000 of die patrollievoertuig by 082 095 9584.