Woede oor onwettige bouwerk
2011-07-14
Lise Beyers
’n INWONER van die Kromrivier-kleinhoewes by Wellington is hewig ontstoke nadat sy buurman, volgens hom, slegs ’n ligte tik oor die vingers gekry het, deurdat hy met R45 000 beboet is vir onwettige bouwerk. Die stryd tussen Louis Neethling en sy buurman, dr Kenny Jacobs, woed nou al jare lank. Alles het begin toe Jacobs bouwerk begin het aan ’n ou buitegebou wat regs langs die grens van Neethling se kleinhoewe is. “Van die staanspoor af het Jacobs die 16 meter boulyn betree. Ons woon hier, want ons geniet die landelike atmosfeer en wil nie bo-op ons bure wees nie. “Jacobs het ten spyte van waarskuwings van die Drakenstein Munisipaliteit voortgegaan met sy onwettige bouwerk en nou belemmer die aangesig van ’n reuse dubbelverdieping-woning my privaatheid. “Ek kan nie verstaan dat daar nie daadwerklike pogings destyds in plek gesit is om die bouwerk te keer nie. Het hy dan so baie invloed by die Munisipaliteit?” Dit is nie net Neethling wat in opstand gekom het teen Jacobs se boubedrywighede nie, maar die meeste inwoners van die Kromrivier-kleinhoewes ook. Altesame agt grondeienaars hiér het reeds in 2008 ’n petisie geteken teen Jacobs se planne, wat toe aan die munisipale bestuurder oorhandig is. Maar steeds het hy voortgegaan met sy bouery. En hulle kan ook nie verstaan hoekom Jacobs so ’n geweldige groot huis gebou het nie, omdat hy reeds ’n groot woonhuis op die kleinhoewe het. Jacobs het voorheen gesê dat die gebou gebruik sal word as sportpraktyk en Bybelsentrum. Hy het wel aansoek gedoen by die Drakenstein Munisipaliteit dat die 16 meter boulyn verslap word, wat aan hom toegestaan is. Maar Neethling meen dat ’n gedeelte van Jacobs se huis nou op sy erf staan. Jacobs is uiteindelik met R45 072 beboet, maar hy het ná die besluit aan hom oorgedra is, ’n versoek aan die departement omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning gerig vir die vermindering van die bedrag. ’n Antwoord hieromtrent word nog afgewag vanaf die provinsiale regering. Maar volgens Neethling is die skade reeds gedoen. “Ek glo dat die waarde van my erf gedaal het weens die bouery. Wie gaan my hiervoor vergoed?” * Die Munisipaliteit oorweeg om binnekort ’n kitsboetestelsel te implimenteer. Sodoende sal mense wat bouwerk verrig, sonder goedgekeurde bouplanne, op ’n daaglikse basis beboet word ná kennisgewing om te staak, totdat bouwerk wel gestaak word. Daar word ook met staatsaanklaers en landdroste binne die gebied ooreengekom op ’n vinniger en meer effektiewe proses vir die aanspreek van onwettige bouwerk en grondgebruik, asook erfenisaangeleenthede. * Owners of smallholdings in the Krom River area of Wellington are unhappy about a huge house which has been built there.
More
News
|