Koningstraat 'word soos N1'
2011-07-14
Anne Kruger
INWONERS van Koningstraat in Noorder-Paarl is hoogs ontstoke oor die groot vragmotors wat deesdae dag en nag dié stil pad gebruik. “Die ruite tril as dié trokke gelaai is, dis ’n storie, dag en nag in ons straat, Sondae ook. Koningstraat word nou soos die N1,” kla een inwoner. Die swaar vragmotors word snags geparkeer op die plaas Honeydew, wat tans voorberei word vir ontwikkeling van ’n aftree-oord. Die vragmotors behoort aan die huurder van een van die twee huise op die plaas. Inwoners van die straat het nou ’n petisie opgetrek teen die ontwrigting veroorsaak deur die vragmotors. “Dit was altyd ’n stil straat, maar ons is nie meer veilig nie, ons kan ons kinders nie eens meer uit die huis laat gaan nie. “As motors weerskante parkeer en die vragmotors in die nou straat nie kan verbykom nie, raas hulle eenvoudig met hul toeters dat ’n mens se ore tuit! “Dit is onleefbaar in ons straat - hoe slaap ons snags? Die pad is reeds beskadig - hoe lank gaan dié pad hou met die swaar trokke? Die verkeersafdeling steur hom nie aan ons klagtes nie, en nou die dag het ’n kontrakteur selfs kom bome snoei om die vragmotors se toegang te vergemaklik - glo op versoek van die Munisipaliteit!” Volgens Helenus Scholtz van Durbanville, ontwikkelaar van die plaas, word die huise op die plaas tans uitgehuur, omdat ontwikkeling vertraag word deur die agterstallige infrastruktuur van die Munisipaliteit. “Die Munisipaliteit het ons ingelig dat die riolering van die gebied eers opgegradeer moet word om voorsiening te maak vir uitbreidings en dat ons waarskynlik eers teen die einde van 2012 ons erwe sal kan diens. Dit beteken dat ons tans geen ontwikkeling of verkope kan doen nie.” Die opgradering van die rioollyn in Noorder-Paarl is reeds aangepak deur die Munisipaliteit, maar dit moet met die rioolwerke verbind word deur ’n pypleiding onderdeur die Bergrivier in die omgewing van Skoolstraat. Hierdie pyp kan eers in Maart volgende jaar gelê word, wanneer die rivier op sy laagste vlak is. “Vandale het intussen die plaas begin stroop en ons het die huise verhuur om diefstal te beperk.” Volgens ’n munisipale woordvoerder is die Honeydew-plaas steeds vir landelike gebruik gesoneer en mag swaar voertuie gevolglik nie toegang tot die plaas geweier word nie. Weens die klagtes van die publiek, word daar nou egter verder ondersoek ingestel. * Residents of Koning Street in Northern Paarl are up in arms over the heavy vehicles using their street to get access to Honeydew farm where they are parked overnight.
More
News
|