Moord van 93-jarige skok
2011-07-14
Lise Beyers
SKOK uit alle oorde is uitgespreek ná die wrede moord op ’n 93-jarige vrou vandeesweek wat al meer as 50 jaar lank in haar huis woon. Die liggaam van Hilda Verster is Dinsdagmiddag in haar huis in Hospitaalstraat gevind deur haar seun Jacques Verster. Hy het by die huis aangekom en toe hy by die agterdeur inloop, is hy deur twee jong mans oorval. ’n Struweling het ontstaan en hy is verskeie kere met ’n mes gesteek. Die mans het hierna gevlug. ’n Bebloede Jacques het sy ma gaan soek en op haar liggaam afgekom waar sy vasgebind was op ’n bed in ’n slaapkamer. Daar was tekens dat die verdagtes die huis deursoek het op soek na waardevolle besittings. Dit is steeds onseker hoe die mans toegang tot die woning verkry het en of hulle hul slagoffer geken het. Tragiese tonele het afgespeel soos wat geskokte familielede en vriende by die toneel aangekom het. Haar doofstom-seun wat by sy ma gewoon het, Isaac, het ná werk by die huis aangekom, onwetend van die drama wat by die huis afgespeel het. Hy was ontroosbaar. Sy geskokte suster, Anne-Marie Conradie van Somerset-Wes, het ook op die toneel aangekom en op die sypaadjie neergesak. Bure wat al jare lank vir Verster ken, het gesê dat sy ’n skadelose, vriendelike vrou was. Nog ’n kennis van haar het gesê dat Verster onlangs uiteindelik haar naam op ’n waglys geplaas het vir ’n ouetehuis. “Sy het altyd gesê sy is te jonk daarvoor. Dis mos nie ’n mens wat so ’n weerlose ou vrou sal vermoor nie?” ’n Werknemer van Boland-kollege, reg oorkant die Verster-woning, het vertel dat sy vroeër die dag die oorledene op die stoep in die winterson sien sit het. Maar sekuriteitswagte by Boland-kollege se hek het niks gesien nie. Jacques, wat in Polokwane woonagtig is en vir besigheid in die Paarl was, is na Paarl MediClinic geneem vir behandeling en is kort daarna ontslaan. Die polisie is op soek na twee jong mans, vermoedelik van Paarl-Oos. ’n Buurman het hulle kort na die voorval opgelet toe hulle in die rigting van die Bergrivier gehardloop het. * Shock has been expressed by the Paarl community after the murder of an elderly woman during a burglary in her house..
More
News
|