NÁ’n bouprojek van meer as ses maande, kan MediClinic Paarl nou uitsien na die ingebruikneming van ’n splinternuwe vyfde teater, endoskopie-suite en uitgebreide Kritiekesorgeenheid.
Die dagsaal het ook ’n nuwe baadjie gekry.
Die snelgroeiende vraag na meer teatertyd deur mediese spesialiste betrokke by die hospitaal, het uitbreidings aan die hospitaal se bestaande vier teaterfasiliteite genoodsaak. Die Kritiekesorgeenheid moes gevolglik ook vergroot word en is uitgebrei van nege na 13 beddens.
Koert Pretorius, Hoofuitvoerende Beampte van MediClinic Suider-Afrika, het die amptelike bekendstelling van die nuwe teaterkompleks waargeneem en in sy toespraak ’n positiewe prentjie van private gesondheidsorg in Suid-Afrika geskets.
Die maatskappy investeer jaarliks groot bedrae geld aan die opknapping en uitbreiding van sy hospitaalfasiliteite in Suider-Afrika, waarvan die bouprojek in die Paarl ’n voorbeeld is.
Die teaterkompleks is ontwerp met die hoofgedagte om die ervaring vir die pasiënt so gemaklik en vriendelik moontlik te maak en is toegerus met die nuutste tegnologie, toerusting en diensareas.
’n Baie spesifieke MediClinic beeld en standaard is deur die hele kompleks toegepas. Dié tipe afwerkings is baie prakties en bevorderlik vir die spesifieke omgewing.
Die presiese plasing van vensters en geglasuurde deure verseker ’n groot invloei van natuurlike lig in die kerngedeelte van die teaterkompleks.
Buitedeure en vensters wat nie oopmaak nie, is dubbeld geseël om die las op die lugversorgingsisteem te verminder.
MediClinic Internasionaal het onlangs ’n nuwe handelsmerk bekend gestel wat ook sal sigbaar wees in MediClinic Paarl en ’n invloed uitoefen op die wyse waarop infrastruktuur uitgebeeld word.
Die hele ontwerp is gebaseer op moontlike toekomstige uitbreidings aan die teaterkompleks met so min as moontlik gepaardgaande ongerief. In die toekoms kan vier addisionele teaters hierby gevoeg word met volledige wegdoeningsareas, sowel as ’n sterilisasie- en ontsmettingsarea.
Graag wil MediClinic Paarl pasiënte en die publiek bedank vir hul geduld en verdraagsaamheid tydens die bouprojek. Die ambulansdiens ER24, ’n filiaal van MediClinic, sal vanaf 1 Augustus heeltyds ’n diens in die Paarl lewer (sewe dae per week), wat tesame met die uitgebreide fasiliteit die gemeenskap beter kan bedien.