Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Op reis saam emt skrywers

Op reis saam emt skrywers
 
2005-10-27


OP Saterdag 26 November bied Storietoere, met John Kannemeyer as gids, weer die nou reeds bekende dagreis deur Kaapstad en Stellenbosch tot by die Paarl en Daljosafat op die voetspoor van bekende skrywers aan.

Wat hierdie jaar se reis so besonder gaan maak, is die uitgebreide besoek aan die historiese plaas Kleinbosch, met die volledig gerestoureerde Gedenkschool der Hugenoten, en die nuwe Anglo-Boereoorlog-monument by Laborie.

Die reis begin om 08:00 by die Waterfront, maar deelnemers kan reeds om 07:00 op Stellenbosch of om 07:30 by Parc du Cap by die bus aansluit.

Aanvanklik gaan die reis in die rigting van Groenpunt, Drieankerbaai en Clifton waar die woonplekke van skrywers soos Opperman, Rabie, Jonker en Van Wyk Louw uitgewys word.

Deelnemers sal sien waar werke soos Joernaal van Jorik en Raka geskryf is en waar die Dertigers en later die Sestigers vergader het.

Van daar gaan die bus oor Kloofnek na Tamboerskloof en Oranjezicht tot by die Tuine, waar baie bekende skrywers gewoon het en steeds woon.

Daarna word ’n draai in Keeromstraat - die Fleet Street van Suid-Afrika - gemaak.

Hierop volg Waalstraat waar die Kaapse klopse jaarliks met Nuwejaar afkom, ’n rit verby Blum se “stetjoes elkeen soos ’n mens” en ’n besoek aan die Parade wat in talle literêre werke figureer.

Die Kaapstadse deel van die reis word afgesluit met ’n besoek aan die Bo-Kaap, die een bakermat van Afrikaans, waar die Arabies-Afrikaanse geskrifte ontstaan het.

Ná ’n koppie koffie gaan die reis na Stellenbosch waar deelnemers in die Universiteitsbiblioteek talle manuskripte van bekende skrywers sal besigtig.

In die Paarl word ’n besoek gebring aan die Taalmuseum waar die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 gestig is.

In Daljosafat, ’n vallei wat sowel vir die taal, letterkunde, joernalistiek en perswese as die wynbou en ekonomie van die grootste belang is, word van die bekende historiese opstalle uitgewys, in die besonder Kleinbosch, geboorteplaas van SJ du Toit en DF Malherbe.

Veral die herboude Gedenkschool der Hugenoten, waar bekende skrywers onderrig ontvang het en waar Afrikaans as medium gebruik is, sal besondere belangstelling wek.

Hulle sit ook aan vir ’n genoeglike middagete.

Op die terugweg stop die bus by die Anglo-Boereoorlog Monument en die Paarlse Taalmonument.

Van daar terug na Stellenbosch, Parc du Cap en Kaapstad.

Binne die bestek van een dag kan deelnemers dus ’n hele stuk fassinerende geskiedenis meemaak en ’n besondere ervaring beleef.

Die eendaagse toer in ’n luukse bus werk, oggendkoffie en middagete ingesluit, uit op R310. Persone wat belang stel, word aangeraai om so gou moontlik te bespreek by prof Wium van Zyl by 976-5755.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za