Victoriapark-smouse iets van die verlede
2011-07-21
NA meer as ’n jaar van onderhandelinge, het die smouse wat voor Victoriapark in Wellington uitgekamp het, die trekpas gekry. Hierdie smouse wat die ingang tot dié geskiedkundige parkie in Kerkstraat die afgelope jare toegestaan het, het ’n kopseer geraak vir inwoners. Nie net het die smouse dié historiese gebied ontsier en bemors nie, maar hulle teenwoordigheid daar was onwettig. Ingevolge die Munisipale Verordening oor Informele Handel, is dit onwettig vir ’n straathandelaar, venter of smous om handel te dryf sonder toestemming van die Munisipaliteit. Dit is ook onwettig om handel te dryf voor of binne ’n nasionale gedenkwaardigheid. Reeds drie jaar gelede het die Wellington Verfraaiingskomitee hul klagtes laat hoor by die Drakenstein Munisipaliteit. Maar selfs gesprekke met die destydse burgemeester het geen vrugte afgewerp nie. Onlangs het die wiele egter vinniger begin draai. Raadslid Johan Rademeyer het gesê dat dit harde onderhandelings geverg het voordat daar lig aan die einde van die tonnel was. “Die smouse voor Victoriapark het ’n komitee gestig wat met ons onderhandel het. Ons het aan hulle die voordele verduidelik van hul skuif en het vir hulle gesê dat as nuwe smouse bykom, moet hulle eers deur die smous-komitee goedgekeur word voordat hulle aansoek kan doen by die Munisipaliteit vir ’n permit.” Verlede Maandag het die smouse uiteindelik ingewillig om te skuif en hul nuwe tuiste is by die taxi-staanplek by die Markplein-sentrum. Maar hierdie groep smouse is net die punt van die ysberg. Hoof- Pentz- en Malherbestraat is vol smouse en naweke verdubbel hul hoeveelheid. “Dié is ’n knaende probleem vir Wellington, maar ons is druk besig hiermee,” sê Rademeyer. “Ons wil nie ontslae raak van die smouse nie, hulle is ’n deel van die kultuur van die dorp. Maar die situasie moet gereguleer word. “Ek is oortuig dat as die smouse georden is en na ’n sentrale punt gekuif word, kan dit ’n toeriste-attraksie wees vir Wellington. Dan kan handewerk-kunstenaars ook naweke op so ’n gebied kom handel dryf.” Rademeyer het verder gesê dat daar verskeie voorstelle tans gemaak word vir so ’n sentrale smous-terrein, maar niks is nog op papier vasgemaak nie. “Ons wil egter so gou as moontlik met ’n oplossing vorendag kom.” Wellingtonse Verfraaiingskomiteelid Eugenie Wiggins het vandeesweek gesê dat hulle verheug is dat die smouse uiteindelik van Victoriapark se ingang verwyder is. “Nou kan ’n mens weer die pragtige park raaksien en ons gaan so gou as moontlik die kenmerkende Jubileumboog opknap.” Sy het bygevoeg dat dit noodsaaklik is vir die ander smouse van die dorp om geskuif te word, want sypaadjies word al hoe meer ontoeganklik vir voetgangers. * The hawkers who have been trading for years in front of Victoria Park in Wellington have been moved to a new venue. The Municipality is investigating alternative trading venues for other hawkers.
More
News
|