Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Droë winter of vroeë lente?

Droë winter of vroeë lente?
 
2011-07-21

Lise Beyers

DIT lyk werklik tans of dit lente in die Boland is.

Dit is die algemene mening van inwoners die afgelope twee weke, toe temperature tot soos hoog as 28°C gestyg het.

En tans is perskeboorde in volle blom, terwyl bitter min reën en koue tot dusver die gebied geteister het.

Maar volgens Agri-Weskaap is dit nog nie nodig om bekommerd te wees oor hierdie ongewone, warm winter nie, maar hulle monitor die situasie.

Maar ’n plaaslike vrugteboer, Billy Bourbon-Leftly, het sy kommer uitgespreek oor die huidige stand van sake.

Volgens hom was daar tot dusver nie genoegsame koue nie, asook te min reën.

“Baie van ons vrugtebome maak staat op koue weersomstandighede om te kan slaap.

“Die warm weer krap hulle deurmekaar en die resultaat hiervan kan lei tot ’n swakker oes in die komende seisoen en in party gevalle selfs geen oes. Daar is reeds bome wat te vroeg begin uitloop het weens dié weer.”

Bourbon-Leftly het verder gesê dat indien daar later koue, nat weer kom in die lente, ly die bome wat reeds uitgeloop het groot skade.

“Die bye wat dan die blomme moet bestuif gaan slaap in plaas van hul werk doen. Ons kan maar net hoop dat die winter gou weer kom.”

Wynboer Kosie Möller het gesê dat hy ook begin bekommerd raak. “My wingerde word nou eers gesnoei en ek wil nie hê hulle moet begin uitloop nie. Ons het beslis ook baie reën nodig.”

Alhoewel die Wemmershoekdam dieselfde vlak is as hierdie tyd verlede jaar, staan die Bergrivierdam se vlak op 82% in vergelyking met 100% verlede jaar, en Theewaterskloof op 76% teenoor 89%.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens mag laer as normale reënval verwag word vanaf nou tot November.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za