Verdagtes vas ná bejaarde se moord
2011-07-21
Lise Beyers
TWEE jong mans is vandeesweek in hegtenis geneem in verband met die moord verlede week op ’n bejaarde Paarlse vrou. Clarence Jones (27) en Aubrey Dampies (25), albei van Chicago, is deur lede van Paarl polisie vasgetrek, nadat leidrade opgevolg is. Dampies was tydens die voorval vrygelaat op korrektiewe toesig, nadat hy aan huisbraak skuldig bevind is. Hy is vroeër vandeesweek terugggeplaas in Polsmoor-gevangenis, omdat hy sy toesig-voorwaardes verbreek het. Hulle sal vanoggend in die Paarl Landdroshof verskyn op aanklagtes van moord, poging tot moord en huisbraak. Die moord op Hilda Verster (93) van Hospitaalstraat verlede Dinsdag het skokgolwe deur die dorp gestuur. Verster is in haar slaapkamer deur twee mans aangeval en vasgebind. ’n Lap is in haar mond gedruk en sy is verwurg. Haar seun, Francois Verster, het kort hierna by die woning aangekom en twee mans betrap toe hulle by die agterdeur van die huis wou vlug. ’n Struweling het ontstaan waartydens Francois verskeie kere met ’n mes gesteek is. Die verdagtes het oor ’n agtermuur gevlug. Hierna het Francois op die liggaam van sy ma afgekom. Hilda se ander seun, Izak, wat gehoorgestrem is en saam met haar gewoon het, het aan Paarl Post gesê dat sy ma se grusame dood ’n geweldige skok vir die hele familie is. “Sy was liefdevol en saggeaard, ’n regte engel.” Izak het oudergewoonte dié dag vir middagete by die huis gekom en is omstreeks 13:30 op sy motorfiets terug werk toe. Die verdagtes het toegang tot die huis verkry deur ’n venster waarvan die diefwering stukkende was. Die polisie het ’n beskrywing van die verdagtes bekom deur ooggetuies wat hulle sien weghardloop het in die omgewing. Teen druktyd was die name van die verdagtes nie bekend nie, maar ingeligtes het gesê dat ondersoek ingestel word of een van die verdagtes betrokke was by die aanval op ’n bejaarde vrou van Groenleegte aftree-oord in Noorder-Paarl. Die 68-jarige vrou, Christina Bester, is ’n maand gelede vroegoggend in haar huis aangeval. Sy is deur twee mans oorrompel, met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en met ’n skroewedraaier gesteek. Een van die verdagtes wat vandeesweek in hegtenis geneem is, het volgens inligting kort ná die aanval op Bester by vriende gespog dat hy “’n ou vrou doodgeslaan het”. Bure van Hilda is nie net in rou gedompel oor die dood van hul geliefde buurvrou nie, maar hulle is geweldig ontstoke. Hulle sê dat hulle al jare lank klagtes aan die Munisipaliteit rig oor ’n parkie aan die onderkant van Hospitaalstraat. Volgens een inwoner, Martyn le Roux, is hierdie parkie al jare lank ’n teelaarde vir kriminele en leeglêers. Verster se begrafnis vind Saterdag om 10:30 plaas by die Parys-begraafplaas, gevolg om 12:00 deur die kerkdiens by die Paarlvallei NG Kerk. * Two men have been arrested after the murder of an elderly lady last week. One of the suspects is also being investigated for possible involvement in an attack in Groenleegte retirement village a month ago.
More
News
|