Musiekvonds in die Paarl
2005-10-27
HY draai sy bos lang, swart hare inmekaar agter sy kop en hy vat die blink saxofoon streelsag in sy hande, soos ’n man sy geliefde streel.
Ezra Lingeveldt sit gehurk in sy tuin in Hospitaalstraat, rustig in die Paarl waar die mense vriendelik is en hy sy passie kan uitleef.
Ezra (24) het die Paarl sy tuiste gemaak - ver van die gejaag van Johannesburg, en weg uit die Kaap wat vir hom ook al benoud laat voel het.
Die jong man wat naam gemaak het as Pop Idol in 2001, was lank voor daardie tyd al volstoom met sy Funk/Jazz doenig, maar dis die Idols wat eintlik vir hom deure in die musiekwêreld oopgemaak het.
Alles gebeur in Johannesburg, dit weet hy. Daar moet jy jou opwerk, maar wanneer jy naam gemaak het, dan moet jy padgee, terug Kaap toe.
Dis waar sy mense is, sy familie wat vir hom baie beteken.
En as jy eers tot in die Kaap gekom het, dan is die stap tot in die Paarl maklik. Soos hy vier maande gelede gedoen het.
Dis hier waar hy meen hy het ruimte om regtig kreatief te wees.
“Die mooiste in die Paarl is die mense. Hier is my tipe mense, vriendelike mense, mense wat omgee, mense wat soos ek dink. Hier is ek met ope harte ontvang,” sê hy.
Hy staan soggens op, oefen ’n uur klavier, dan nog ’n uur saxofoon en ’n uur op sy kitaar in die studio in sy kothuis.
Sy orkes werk saam met hom en naweke doen hulle uitvoerings oral waar die aanvraag is.
“’n Mens moet body, mind en soul in jou musiek wees. En toevallig woon ek hier tussen ’n gimnasium en ’n musiekskool,” glimlag Ezra.
“Ek is lief vir oefening. ’n Mens moet gesond bly, want hierdie bedryf is emosioneel baie uitputtend.”
Hy oefen elke dag in die gimnasium en dan kuier hy gereeld by Frank Pietersen musieksentrum net so ’n straat of wat van sy huis af. Ezra se droom is om musiek te kan lees en self te kan skryf, iets wat hy nog nooit aangepak het nie. Hy speel eenvoudig op gehoor.
“Ek is nou in Graad Een. Ek hoor musiek en dan is my oor al aan die einde, maar my oog sien nog net die begin.”
Gister het hy die goeie nuus gekry. Sy oudisie was suksesvol. Hy is by Frank Pietersen aanvaar en hy begin vroeg 2006 met klasse in klavier en kitaar.
“Ek gaan volgende jaar konsentreer op my instrumente, en ek wil nog ’n album uitbring, dalk in Afrikaans.”
Dan is Ezra op die regte plek, tussen Afrikaanse mense wat omgee en vir hom die deure wyd oophou.
* Pop Idol Ezra Lingeveldt has made Paarl his home.
More
News
|