Goue pyle vir Drakenstein
2011-07-21
GEDURENDE ’n koue week in Johannesburg het die dames van die Drakenstein-distrikspan warmte in die gemoed van menige Bolander gebring deur die goue medalje in hul seksie te verower tydens die weeklange nasionale veerpyltjie- kampioenskappe wat by Kibler Park in Johannesburg gehou is. Wat hierdie oorwinning meer merkwaardig maak, is die venyn en geesdrif waarmee hierdie talentvolle span oorwinnings behaal het oor hul opponente. ’n Algehele wengemiddelde van 11-5 het die span verseker met die aanvang van die laaste dag van ’n voorsprong van 5 ligapunte asook 12 wedstrydpunte. Die geesdrif in die span was kenmerkend en oorwinnings oor Waterberg (13-3), Laeveld (10-6) asook Mosselbaai (11-5) op dag een was ’n teken van die vasberadenheid van die span. Oorwinnings daarna teen Hoëveld (11-5), St. Croix (9-7) asook Weskus (12-4) het hul die grondslag gelaat tot goue louere en die span kon met ’n huppel in hul stap die finale fases van die toernooi benader met ’n groot voorsprong. Oorgerustheid kon die span maklik kniehalter en ’n plek op die podium ontneem, maar dié woord was nie deel van die span se mondering met die aanvang van die laaste dag van die toernooi nie en die span het ’n goue podium plek verseker met ’n oorwinning oor Capricorn (10-6) en ’n gelykop-uitslag met Suid-Vrystaat. Met die koeël reeds deur die kerk vir hul opponente, het die span in die laaste wedstryd van die toernooi vasgeval teen Tygerberg, wat die algeheel tweede plek behaal het met ‘n gesamentlike liga punt van 22, maar wedstrydpunte van 82 teenoor die 91 van Drakenstein. In ander uitslae het die Drakenstein-manspan, wat in die top seksie nasionaal meeding, algeheel vyfde geeïndig met Westelike Provinsie- distrikte wat met die louere weggestap het. Thurlough Lottering (59,09%, gemid.23,14) en Charl Pietersen (61,36% gemid 23,74) bygestaan deur veterane Danny Daniels, Edward Noble en Mervin Jones asook jongelinge Craig Johnson en Elrico Smith het hul goed van hul taak gekwyt, maar kon in die Johannesburgse koue net nie die knoop deurhaak nie. Thurlough spog ook met die mylpaal van 25 voltalle (180’s) gelewer by nasionale kampioenskappe. Die Boland Junior-span met Proteaspeler Morné Watson en 2010 Boland speler Corné Willemse in hul midde, het verskeie suksesse behaal. Morne het algeheel tweede geëindig met spanmaat Damian agtste en in die dubbels was hul gesamentlik sesde. Corné Willemse het vierde geëindig, gesamentlik op 24 punte met Bianca Strydom van Gauteng, maar met eersgenoemde wat haar net-net in die uitkloprondes getroef het.
More
News
|