IN die volgende stelling is ’n element van waarheid: Visvang, jag en motors is ’n onderwerp tussen manne waarin die waarheid meermale skuins gedraai word…
Slange en spoke doen dieselfde in enige gemengde geselskap. Spoke egter met dié onderskeiding van ’n verskil in standpunte.
Die volgende is almal bekend: dis snert daar bestaan nie so iets nie, ek sal net daarin glo as ek eers een gesien het - asof almal spoke kan sien; dis net bang mense en dronkies wat in begraafplase verdwaal wat glo in spoke.
Selfs: ek slaap saam met elke spook wat julle vir my bring (gewoonlik diegene wie se hormone altyd op ’n roetemars is) - asof ’n spook hom laat wegvat van sy spookplek.
Die meer realistiese persone? Dankie tog ek het nog nie een gesien nie, maar my pa/tante het my vertel en sal nie jok nie.
Ek glo nie in spoke nie, maar áán spoke definitief. Ervaring bly die beste leermeester.
Ons deel die afgelope 25 jaar ons huis met ’n spook. ’n Skok om te ontdek dit spook in jou droomhuis. Die souerigheid het egter verdwyn toe ons ontdek hoedat “dit” lyk, later wie dit is en dus ’n naam kon kry.
Net so oortuig ek is van die bestaan van spoke, net so min glo ek aan toeval. Ons spook is geïdentifiseer toe ’n onbekende vrou my eendag in ’n Paarlse haarsalon gevra het of ons in dié spesifieke huis in Wellington woon.
Dit het oorspronklik aan haar tante behoort. Sy het die besondere huis laat bou. (Dit is so. Ons besit die oorspronklike plan soos opgetrek deur oom Bernard McDonald, bekende eertydse argitek van die Paarl en persoonlike kennis. Ons is die tweede eienaars.).
Op my bevestigende antwoord en grappige stelling dat ons baie lekker daar bly saam met die spook, was haar antwoord dat sy glo dat dit daar spook omdat…
Haar ongevraagde beskrywing van die persoon, het 100% ooreengestem met die oulike tantetjie wat hier woon!
Ons woon in harmonie saam. So-by-so was ons nooit bang nie, maar kan nie anders as wonder hoekom miss Kelley nie tog maar huis toe gaan nie?
Gaste word nie vooraf vertel van haar nie; wil nie hê dat hulle moet verkas voordat hulle afgepak het nie.
Agterna is niemand se kuier kortgeknip nadat hulle die storie gehoor het nie.
Rondom die spokery het ons baie beleef. Dié een móét ek vertel.
Ons het dertien jaar hier gewoon toe ’n onbekende man vir Middelkind vra of ons steeds in dié huis bly.
Sy storie? Sy ouers het die huis gehuur. Hulle het ingetrek op ’n Vrydag en Sondag weer uitgetrek - omdat dit so gespook het, het hulle nie kans gesien het om langer te bly nie!
Dis waar. Dries het die Maandag na werk kom kyk of die huurders iets benodig. Hulle was skoonveld! Op navraag by ’n familielid was die verskoning dat hulle meubels te min was vir die huis.
Vir die skeptici. Ek het verskeie Suid Afrikaanse en oorsese, myns insiens, goeie nagevorste werke gelees oor “apparitions”.
Enkele feite: Die para-normale is daar. Nie alle mense kan ’n verskyning sien of ’n teenwoordigheid waarneem nie. ’n Betroubare, maklik bekombare en lekkerlees-boek hieroor is dr Izak Burger se Geestewêreld.
’n Nie-aggressiewe spokie, soos ons s’n, maak die saambly maklik.
Ek hoop nie sommige van u huisgenote veroorsaak dat u voel dat u met ’n bose gees saamwoon nie.
Dis baie erger as enige werklike spook.