DIT is amptelik: Suid-Afrikaanse olyfolies is top as dit kom by kwaliteit, waarde vir geld en eerlike etikettering.
Hierdie bevestiging kom uit ’n studie wat deur SA Olive (SAO) gedryf is waarvolgens verskeie plaaslike asook ingevoerde olyfolies wat hier op die rakke beskikbaar is, aan ’n internasionale toets onderwerp is.
Op grond van die uitslae bly Suid-Afrikaanse olies steeds die verbruiker se veiligste keuse.
SA Olive, die vrywillige vereniging wat die belange van die SA olyfbedryf verteenwoordig, het hierdie indiepte marknavorsing geïnisieer om die kwaliteit van plaaslike en ingevoerde ekstra suiwer olyfolies op die proef te stel.
“Die hoofmotivering vir hierdie studie was om die Suid-Afrikaanse verbruiker op hoogte te bring van die werklike kwaliteit van beskikbare olyfolies,” verduidelik Leonard Arangies, SAO bestuurder.
“Die realiteit is dat nie alle olies wat byvoorbeeld as Ekstra Suiwer geëtiketteer is, wel ekstra suiwer is nie. Veral van die ingevoerde olies wat getoets is, het skokkende afwykings getoon.”
’n Ewekansige monster is van die beskikbare olyfolies geneem en in ’n geakkrediteerde internasionale laboratorium volgens die International Olive Council (IOC) se spesifikasies getoets.
Sewe Suid-Afrikaanse en 23 ingevoerde olies is aan die studie onderwerp. Slegs 23% van die monsters wat getoets is, was Suid-Afrikaans aangesien sowat 80% van plaaslik beskikbare olyfolies ingevoer word.
“Drie toetse is gedoen: ’n chemiese toets, ’n organoleptiese (proe) toets en ’n nuwe varsheidtoets waarvoor die tegnologie en parameters onlangs deur die IOC ontwikkel is,” sê Arangies. “Om die toets as Ekstra Suiwer olyfolie te slaag, moet ’n olie al drie toetse slaag.”
Die resultate dui onomwonde dat ingevoerde olies persentasiegewys van swakker gehalte as hul Suid-Afrikaanse eweknieë is.
Geen van die plaaslike olies wat getoets is, het enige aanduiding getoon dat daarmee gepeuter is nie, terwyl 26% van die ingevoerde olies misleidend as Ekstra Suiwer gebottel is en dus krimineel vervolgbaar is.
Altesame 66% van die getoetste olies het een of ander vorm van defek getoon en moes dus nie as Ekstra Suiwer geëtiketteer word nie. Slegs 33% van die 30 getoetste olies wat as Ekstra Suiwer geëtiketteer is, is inderwaarheid Ekstra Suiwer.
Terwyl slegs 22% van ingevoerde olies die toets as Ekstra Suiwer olyfolie geslaag het, het 71% van die Suid-Afrikaanse olies hierdie status verdien.
“’n Verdere interessante waarneming wat na vore gekom het, is die kwessie van prys,” sê Arangies. “Die Suid-Afrikaanse verbruiker het dikwels die persepsie dat plaaslike kwaliteit olyfolies te duur is om te koop. “Die studie het egter getoon die gemiddelde prys van alle olyfolies wat getoets is, beloop R62,68 vir 500 ml, terwyl die gemiddelde prys vir dié wat werklik as Ekstra Suiwer geklassifiseer mag word, R65,19 vir dieselfde volume kos – ’n klein verskil vir van die beste olyfolies in die wêreld.”
“SAO is altyd proaktief besig om die belange van die verbruiker van olyfolie in Suid-Afrika te monitor,” sê Arangies.