Die tema vir vanjaar se Agri Mega Week wat van Woensdag 14 tot Vrydag 16 September by Mega Park in Bredasdorp plaasvind, is “Landbou vir die mense”.
Graan- en spesifiek kleingraanaangeleenthede word tydens Agri Mega Week ontbloot vir produsente sowel as verbruikers.
Behalwe vir talle uitstallers van planters, stropers, balers en vele meer kan jy ook met graanbemarkers idees uitruil. Graan SA het ook hul gebruiklike gastetent waar produsente skouers kan skuur met dié kommoditeitsorganisasie se bestuur.
Vir die verbruiker bring die demonstrasie van implemente die produksie van graan na die werklikheid, maar daar word ook beplan om ’n plaasmark met onder andere vars brood, konfyt, plaasbotter en als wat lekker is te koop aan te bied.
Hierdie is nie sommer enige skou nie, maar ‘n nasionale gebeurtenis waar die toonbeeld van gehalte wolproduksie gestalte kry in ’n verskeidenheid van aktiwiteite, veld- en kuddeskoue, vagkompetisies, ’n modevertoning van merino-wol kledingstukke, potjiekoskompetisies en vele meer is op die spyskaart vir vanjaar se Merino Classic, moet dit beslis nie misloop nie.
Die suiwelbedryf vorm ook, soos altyd, ’n belangrike komponent van Agri Mega Week en vanjaar is geen uitsondering nie.
Die Wes-Kaapse Jerseykampioenskappe, Suid-Kaapse Ayrshire Kampioenskappe en die immergewilde “Queen of the Expo” interras-suiwelkampioenskappe is maar enkele van die hoogtepunte waarna besoekers kan uitsien. Skaaprasse en vleisbeesrasse kan ook besigtig word. Daar is ook ’n pluimveeskou en ’n plaaswerf vir die kleinspan om te beleef.