Week van samesyn vir Paarlse vroue
2011-07-28
’n WOMEN’S MEGA FEST word aangebied vir vroue by die Koraal Lighthouse Familiesentrum, geleë in die ou polisiestasie in Klein Drakensteinweg vanaf 31 Julie tot 8 Augustus. Die Mega Fest skop af op Sondag 31 Julie om 15:00 met ’n gebedsbyeenkoms waar nege vroue van die Paarl praatjies sal lewer. Die week van 1 Augustus tot 8 Augustus sal daar daagliks vanaf 10:00 praatjies met verskeie sprekers en werkswinkels vir vroue aangebied word. Elke aand om 19:00 sal ’n “Mega Conference” gehou word met verskeie gassprekers. Vroue kan ook daardie week vir een aand by die sentrum oorslaap en so deel wees van die oornagprogram. Tydens die week sal daar gepraat word oor mishandeling en hoe vroue hulself kan bemagtig. Volgens Unita Pretorius (hoof van dié sentrum), ook bekend as die Koraalvrou, moet vroue hul plekke bespreek om dié week daar te oornag. Vroue moet ook dan hul eie beddegoed bring. Op 6 Augustus kan vroue vanaf 15:00 by die sentrum lekker bederf word met ’n gesigbehandeling teen R30 per persoon. Op 9 Augustus word die week om 10:00 afgesluit met ’n “Mega Fest Celebration”. Tydens die week sal daar ook verversings te koop aangebied word wat sal dien as ’n fondsinsameling vir die “Half Way House” wat die sentrum beoog om te hê. By die “Half Way House” sal vroue en kinders wat aangerand of seksueel misbruik is, aanklop om hulp en ondersteuning, waarna hulle die slagoffer na die polisie sal neem en na die regte organisasie verwys. Vir enige navrae, skakel Unita by 072 188 5685 of Lynette by 083 404 8527 of Kathrine by 084 493 9615.
More
News
|