Inbreker toe byna verkragter
2005-03-24
’n JONG vrou wat haar woonsteldeur in sentraal-Paarl ’n minuut lank agter haar oopgelaat het, is verlede Saterdag deur ’n vermeende verkragter oorrompel.
Volgens die polisie-ondersoeker het die vrou (24) haar motor in Ottowastraat geparkeer en haar woonstel binnegegaan.
Sy het haar pakkies neergesit en teruggedraai om die voordeur agter haar te sluit.
’n Vreemde man het haar vasgegryp en met so ’n slag teen die deur gegooi dat die glasruit gebreek het.
Die man het haar na die slaapkamer gesleep waar hy haar met ’n mes teen die keel probeer verkrag het.
Die man het die vrou egter skielik gelos, haar selfoon en motorsleutels gegryp, en uit die woonstel gehardloop.
’n Motorfietsryer wat onraad vermoed het toe die man met haar motor weggery het, het hom agtervolg.
Op die hoek van Westhoven- en Optenhorstraat het die verdagte beheer verloor en het hy van die pad gejaag. Die man het weggehardloop.
Die slagoffer is vir skok behandel.
Terwyl insp Jason Pietersen Dinsdag nog na die verdagte gesoek het, is ’n vermeende huisbreker by ’n woning in Noorder-Paarl in hegtenis geneem.
Insp Jan Burden van die honde-eenheid het die man uit ’n huis sien kom, en met die hulp van oplettende bure wat ’n goeie beskrywing kon gee, is die man nog in besit van gesteelde goedere betrap.
Dié verdagte was een van vyf verdagtes wat aangehou is op aanklagte van ses inbrake in Sentraal-Paarl daardie naweek.
Insp Pietersen het die woonstelbewoner en motorfietryer gevra om na die uitkenningsparade te gaan, en hulle het een van die huisbrekers positief geïdentifiseer.
* A Paarl woman who fought off a would-be rapist identified a burglar who had been arrested after her ordeal, as her assailant.
More
News
|