Arno steeds in aanhouding in Laos-tronk
2011-07-28
Liese Beyers
DIE seun van ’n plaaslike landdros word steeds onregmatig agter tralies aangehou, vier weke nadat hy in Laos in hegtenis geneem is. En steeds is Arno Immelman (19), seun van senior streekshoflanddros Anne-Marie Immelman, nie aangekla van enige misdaad nie. Arno het verlede jaar gematrikuleer en het vanjaar na Thailand vertrek waar hy onderrig ontvang het om Engels aan Thaise skoolkinders te leer. Hy moes elke maand Laos besoek, wat ’n buurland van Thailand is, om sy Thaise visum te verleng. Anne-Marie was gereeld in kontak met haar seun, maar toe sy vir ’n paar dae lank nie van hom hoor nie, het sy baie bekommerd geraak. Sy het uiteindelik vir ’n vriend van hom op Facebook in die hande gekry en is ingelig dat Arno in hegtenis geneem is in Vientiane, die hoofstad van Laos. Arno het glo in die Kambodjaanse ambassadeurswoning beland sonder toestemming, waar hy in hegtenis geneem is. Maar Anne-Marie het vertel dat hierdie woning Kambodjaanse terrein is en hulle het aangedui dat hulle geen planne het om haar seun aan te kla nie. Nogtans word Arno steeds deur die owerhede van Laos aangehou en daar is geen teken van sy vrylating, of vervolging nie. ’n Suid-Afrikaanse attaché van die ambassade in Thailand, het wel daarin geslaag om besoek af te lê by Arno, maar sy vrylating kon nog nie beding word nie. Sy het wel laat weet dat dit goed gaan met hom. Anne-Marie het vandeesweek gesê dat die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Thailand nou probeer om persoonlik die situasie aan te spreek. * The young Paarlite who was arrested in Laos four weeks ago, is still being held captive without prosecution.
More
News
|