Paarliet slaan rol los in produksie
2011-07-28
Liezl Davids
JOHN KOOPMAN van Paarl is ’n bewys dat dit nooit te laat is om jou drome na te streef nie. Koopman het op die ouderdom van 24 jaar besluit dat hy tog sy passie moet nastreef om ’n akteur te word en het vroeër vanjaar sy buiging gemaak in die Athol Fugard produksie, People are Living There. Koopman is ’n tweede-jaar dramastudent by City Varsity en het die rol as byspeler in dié produksie losgeslaan wat volgende week weer in Muizenberg op die planke is. Hy speel die rol van Don en is ná die eerste drie aande op die planke genomineer as “Beste Nuweling”. “Don is ’n moeilike rol om te speel. Hy het sielkunde studeer, maar het opgeskop. Hy sit heeldag en lees ensiklopedieë en hy kyk nie na homself nie, maar hy is die een na wie die ander hardloop om hulle te help met hul probleme - hy is die lig in die donker,” vertel Koopman van sy rol Koopman moes vir ’n maand lank elke Dinsdag en Donderdag direk uit die klas gaan vir repetisies, wat hom tot elfuur saans besig gehou het. “Dit was moeilik aan die begin, want ek het baie woorde gehad om te leer en die laat aande het gemaak dat ek maar my vrou min gesien het. “Maar as ’n tweedejaarstudent is dit vir my ’n groot prestasie. In die produksie was daar nie ’n lektor agter my wat my riglyne gegee het nie, dit was my verantwoordelikheid om die karakter my eie te maak.” Koopman het reeds van 12 jaar oud geweet hy wil in die vermaaklikheidsbedryf wees en het graag die kinders in hul straat vermaak met sy danspassies. Hy het later by ’n dansgroep aangesluit wat by verskeie karnavalle en by die Drakenstein Liggiesfees opgetree het. Vyf jaar gelede het hy begin dromme speel en hiermee het hy sy lof en dank aan God uitgeleef. Volgens hom het dié twee gawes hom baie gehelp om meer gemaklik op die verhoog te wees. Koopman het sy hoërskoolloopbaan voltooi by Klein Nederburg Sekondêr en het ná skool in Menslike Hulpbronne by Boland kollege studeer, maar het besef dat dit nie sy passie is nie. Hy het die studies gelos en daarna gaan werk en getrou, maar die lewe het nie vir hom daar gestop nie. “Ek en my vrou het gepraat en toe die geleentheid kom, toe begin ek met my studies. Volgens John staan sy vrou, Leanne, 100% agter hom en is sy juis sy inspirasie om sy droom na te streef. Koopman is reeds besig om sy eie produksies te begin skryf. “Ek besef as akteur sal daar nie in die begin altyd werk wees nie, daarom gaan ek reeds nou begin om so ver moontlik my eie werk te skep.” Een van sy groot drome is om ’n rolprentakteur te wees. Die produksie is vanaf 3 tot 6 Augustus by The Masque-teater in Muizenberg op die planke. Kaartjies is R60 per persoon en kan bespreek word by die Masque-kantoor.
More
News
|