BOKSLIEFHEBBERS in Drakenstein kan hulle solank regmaak vir lekker aksie wanneer Paarliet Johannes Salie Saterdagaand by die Bolandpark-krieketstadion deur die toue klim.
Salie pak vir Makhosonke Zwengu van Port Elizabeth in ’n middelgewiggeveg. Die toernooi begin om 16:00 en duur tot 21:00 met ses gevegte wat aangebied word.
Salie, met 15 beroepsgevegte agter die blad (12 gewen en 3 verloor), is tans vierde gekeur in Suid-Afrika met Zwengo wat tweede gekeur is.
Die kans is goed dat die wenner van die geveg vir die Suid-Afrikaanse titel oorweeg sal word.
Dié oud-skolier van Charleston Hill Sekondêr het op 15-jarige ouderdom begin boks en het in 2007 professioneel begin boks.
“Ek wil graag vir die jeug wys watter geleenthede boks vir hulle inhou. Die stigma wat daaraan gekoppel is dat boks ’n gevaarlike sport is, wil ek wegneem en die teendeel bewys.
“Ek wil ook graag bokstalent wat in die platteland versteek is, ontgin en vir hulle die nodige blootstelling gee,” sê hy.
Kaartjies vir die toernooi is R30 (R15 vir kinders) en is beskikbaar by Koinonia-gemeenskapsentrum se kantore in Bredastraat, Paarl. Skakel 079 188 7693 of 084 737 0845 vir meer besonderhede.