NÁ ’n rekord 251 inskrywings vir die sesde jaarlikse Novare SA Terroir-wyntoekennings, het vyf wynkelders uitgestaan as top presteerders met twee Nasionale Wenners elk: Doolhof, Welbedacht, Durbanville Hills, Hermanuspietersfontein en Jordan.
Die Top Wynlandgoed-trofee is toegeken aan Jordan Wynlandgoed en die tweede Novare Trofee vir die Top Wyngebied is toegeken aan die Durbanville-wyk.
Die kelders wat die hoofrol gespeel het om die Top Wyngebied-trofee vir Durbanville te bewerkstellig, is Durbanville Hills, Klein Roosboom, Meerendal, Nitida, De Grendel, Altydgedacht en De Vallei.
Verlede jaar se wenner van die trofee, die Wellington-wyk, was die sterkste mededinger. In die Paarl-streek was agt van die nege kategoriewenners vanjaar van Wellington-wyk.
Die plaaslike uitblinkers wat deurgedring het na die eindronde was vier wyne van Wellington (die Welbedacht Barrel Fermented Chenin Blanc 2005 en Pinotage 2009 en Signatures of Doolhof Petit Verdot 2009 en Malbec 2009) asook die Paarlse wyn Anura Syrah Limited Release 2007. Uit Franschhoek-wyk was die uitblinkers Dieu Donné Cross Collection Merlot/Cabernet 2008 en La Motte Methode Cap Classique Brut 2008 (vonkelwyn).
Slegs wyne gesertifiseer as ’n enkelwingerdwyn, ’n landgoed-geproduseerde wyn of van ’n spesifieke wyk kan deelneem.
“Sedert die eerste kompetisie ses jaar gelede, het ons jaar na jaar rekordinskrywings ontvang, wat toon daar sal altyd ’n plek wees om wyne wat geskep is van druiwe uit ’n spesifieke wyngebied se lof te besing,” sê Marius Labuschagne, projekleier van SA Terroir-wyntoekennings.
“Elke jaar se uitslae wys ook duidelik dat Suid-Afrika oor ’n wynland vol veelsydige terroirs beskik, met ’n groot verskeidenheid van gehalte wyne in baie verskillende gebiede.”
Die beoordelaars vir die 2011-kompetisie was Altus le Roux, Andrea Freeborough, Dave Hughes, David Biggs, Erika Obermeyer, Guy Webber en Pierre Marais, en die tegniese koördineerder Charl Theron. Die uitslae is gemonitor deur Novare se rekeninge-afdeling.
Vir volledige uitslae besoek www.terroirwineawards.co.za.