MET die geskiedenis bly snuffelwerk vol verrassings.
Kyk nou maar na die liewe mevrou Bruël wat in die eerste helfte van die 18de eeu hier in die Drakenstein gewoon het.
Ek lees die ander dag in Robert Shell se boek Children of Bondage oor hoe dikwels mans verhoudings met hulle slavinne gehad het, gewoonlik maar ’n geval van persoonlike uitbuitery.
Dit het natuurlik dikwels gebeur en indien die eienaar van die slaaf “uitgevang” is, was dit die slavin wat vir haar onbetaamlike gedrag “berispe” is.
Dat huisvrouens ’n verhouding met manlike slawe sou aanknoop, was ’n perd van ’n ander kleur.
In 1716 is daar in die Paarl heelwat geskinder oor mevrou Bruël se verhouding met een van haar man se slawe. Die saak het tot die Drakenstein se kerkraad se aandag gekom.
Mevrou is toe ingeroep en meegedeel dat sy ’n “seer boos leven met haren slaaf lijden” en dat sy nie net die verhouding moet stopsit nie, maar dat haar man liefs die slaaf moet verkoop.
Shell skryf dat mev. Bruël gevra het dat die kerk geduldig moet wees, want haar man sukkel om die slaaf verkoop te kry.
Miskien was dit ’n kwessie van “ja ek sal, maar nie nou nie”. Of miskien het haar man werklik gesukkel om ’n koper te kry. ’n Mens koop mos nie ’n adder vir jou boesem nie.
Ek begin toe wonder oor hierdie Bruëls. Wie was hulle? Dit blyk toe dat Bruël of Bruel al die tyd ’n verdraaiing is van die van Bruére, wat hier later Bruwer geword het.
Mevrou Bruël se man, Estienne Bruére, was een van die eerste Hugenote wat in 1688 op die Voorschotten in die Kaap aangekom het. Hy was toe 23 jaar oud en het sy ambag as wamaker opgegee.
Twee jaar na sy aankoms trou hy met ’n mede-Hugenoot, Esther de Ruelle van die plaas De Hoop in Daljosafat. In 1694 kry Estienne Bruére die plaas Rust-en-Werk, ook in Daljosafat.
Die plaas bestaan nie meer van- dag nie, maar was toe langs die Bergrivier, ongeveer waar Mbekweni is. Sy vrou Esther is egter kinderloos oorlede.
In 1702 trou hy ’n tweede keer, weer met ’n Hugenoot. Sy was Suzanne du Puis (Pe/Puys) wat in Parys gebore is. Sy was maar 18 jaar oud met haar troue, en hy 37.
Bruére het geweet hoe om te rus en te werk, want in 1708 koop hy ’n aangrensende plaas, De Kykuit. Die plaas bestaan vandag nog en lê langs Diemersfontein, oos van Newton. In 1712 koop hy ’n derde plaas, Verrekyker - of De Veerkijker of De Veerkeyker in ander bronne.
Suzanne du Puy het groot geword op die plaas Salomonsvlei.
Bronne wissel oor hoeveel kinders die Bruéres gehad het en beklemtoon weer eens dat dié wat genealogiese navorsing doen, altyd meer as een bron moet raadpleeg.
Volgens die SA Geslagregister het hulle sewe kinders gehad. Susanne was die oudste, gevolg deur die tweeling Martha en Anna wat in 1709 gebore is, dan Steven/ Stephanus (1714), Ester (1717), Elisabeth (1720) en Johannes (1722), wat as die stamvader van die Bruwers van Suid-Afrika beskou.
In die Drakensteinse doopregister word egter net vier kinders genoem: Anne Madelein wat in 1711 gedoop is, Estienne in 1714, Esther in 1717 en Isabeau of Elisabeth in 1720.
Mens kry gee inligting oor Estienne junior nie, en wie was Steven Bruére? Hy was duidelik nie een van Estienne senior se kinders nie want in 1722 doen Steven Bruer, ’n landbouer in Drakenstein, aansoek vir grond wat hy nege jaar reeds huur. In die aansoek noem hy ook dat hy ’n vrou en ses kinders het.
Nog ’n genealogiese bron, C Pama, gee Steven Bruére aan as die eienaar van die plaas Veerkeyker. Moontlik was Estienne senior se tweede naam Steven, en dis hoe die verwarring voorgekom het. Wie weet.
Die vraag is natuurlik, indien mevrouw wel ’n verhouding met haar slaaf gehad het, was daar kinders betrokke? Dis baie moeilik om te sê.
Dit wil egter voorkom asof hulle oudste seun óf kinderloos gesterf het óf sy kinders is nooit in huidige geslagregisters opgeneem nie.