Bye ma, Jaypee te sien
2011-08-04
DIE toneelstuk Bye Ma, Jaypee met Chris van Niekerk is te sien vanaand by die Wynvlieg Kelderteater by Boland-kelder in Noorder-Paarl. ’n Ruk na ma Grieta op die wit laken gaan lê het, haar siel aan God gegee het en die res van haar “aan mense wat dit nodig het”, het Jaypee in 2002 begin om elke jaar ’n brief aan sy ma op haar verjaarsdag in Die Burger se doodsberigte te plaas: “Vandag is Ma 95. Dankie, Ma, dat Ma my grootgemaak het of ek heeltemal normaal is en nooit “odd” laat voel het nie. Deon Chang sê op ’n Woolworths poster “it’s a privilege to be different”. Ek kan my voorstel Ma met vlerke en die spierwit hare. Ek wonder hoe lyk Hansie met vlerke.” Die vertoning is gebaseer op ’n ware verhaal en is ’n menslike verhaal met lewensgetroue humoristiese momente wat jou sal laat huil van die lag. Die regie van dié produksie is gedoen deur Margit Meyer-Rödenbeck (mede-vervaardiger), die teks deur Daleen Kruger en die hoof-vervaardiger is Herman Pieters. Die vertoning begin om 19:00 en ’n vurkmaal en wyn kan vooraf geniet word. Kaartjies is R60 en kan bespreek word by 021 862 6190. * Op 12 Augustus is die bekroonde kabaretkunstenaar en Laureaathouer Helena Hettema by die Wynvlieg Kelderteater met nuwe oorspronklike musiek, sowel as onvergeetlike romantiese gunstelinge uit haar dubbel CD “The Spirit of Piaf and Other French Legends” en haar DVD “Helena Hettema Alive”. Kaartjies is R100 en besprekings kan gedoen word by 021 862 6190.
More
News
|