ANDEESWEEK het die Paarl behoorlik ontwaak, met dié dorp se grootste, jaarlikse fees.
En nee, dit is nie in die vorm van ’n musiek- of kunstefees nie, maar dit is Interskole wat jaarliks duisende mense na die Paarl bring.
Vanjaar is die 82ste keer dat Hoër Jongenskool en Hoërskool Gimnasium mekaar op die rugbyveld pak.
Uit hierdie stryde blyk dit dat Gimnasium ’n kortkop voor Boishaai is. Die Gimmies kan spog met 39 oorwinnings teenoor Boishaai se 33. En dan was daar ook tien jaar se gelykop-tellings.
Die swier van Interskole is vir elke Paarliet wie se hart en siel in dié dorp lê, ’n ware hoogtepunt.
Die dorp verander skoon van kleur soos wat baniere van hierdie skole se kleure om bome, hekke en pale drapeer word. Almal het ’n huppel in hul stap en ’n gesonde atmosfeer van mededinging is in die lug. Die rustige vallei verander dan in ’n bruisende, opgewonde dorp.
Die week begin lank vóór die eerste XV afskop. Trouens, die hoofwedstryd is maar net die hoogtepunt van ’n week van feeste.
Tydens hierdie tydperk is jy òf ‘n Gimmie òf ’n Boishaaier, (of in die meer onvleiende terme, ’n Bloedwors of ’n Galpil).
En dit is duidelik dat vir ’n menigte Paarlse skoliere is Interskole die hoogtepunt van hul skoolloopbaan.
Boishaai se sjampanjenooi, Carlé Latsky van Hoër Meisieskool, sê dat sy uit haar nate van trots bars: “Ek is so trots om sjampanjenooi te wees. Dit is vir my ’n groot voorreg - ek kry skoon hoendervleis.
“Ek is ook so trots om in Girls’ High te wees. Die gees van die hele sportweek is wonderlik, en alhoewel ons en Gim tans vyande is, ná Saterdag lag ons lekker saam oor vanjaar se Interskole.
Misha Koen, Gimnasium se sjampanjenooi, is sedert preprimêr ’n Gimmie. “Dis vir my ’n groot voorreg om híér te staan en ’n voorbeeld van my wonderlike skool te wees.
“Interskole is die hart van die Paarl en ons is almal bevoorreg om deel te wees hiervan.”
Marcel van der Spuy van Boishaai sê dat Interskole hom trots maak om in die Paarl skool te gaan.
“Ek bars uit my nate van blydskap om ’n Boishaaier te wees. Interskole is wonderlik. En om dit boonop as matrikulant te beleef, is ’n eens in ‘n lewe ervaring.”
En wat sê die eerste span-rugbykapteins op die vooraand van die kragmeting?
Takkies Reitz van Boishaai sê dat dit die grootste dag van sy skoolloopbaan gaan wees wanneer hy Saterdag op Faurestraat uitdraf.
“Dit is ’n ongelooflike gevoel om my skool se kaptein te wees. Daar is net nie ’n ander skolesportbyeenkoms soos Interskole nie. Om deel te wees daarvan, gaan onvergeetlik wees.”
En Gim se kaptein, Jaco Jordaan, bekommer hom glad nie oor die feit dat Boishaai die afgelope naweek ’n uitmuntende sege behaal het teen SACS nie, toe Boishaai met 75-0 gewen het.
“Interskole is so groot dat enigiets kan gebeur. Daardie dag wanneer ons voor sowat 25 000 toeskouers uitdraf, dan speel ons uit ons harte uit.
“Dit is die grootste eer om deel te wees van Interskole en Saterdag sal die hele skool vir ons doellyn toe dryf.”