Ouma toegesluit oor pasteie
2011-08-04
''n OUMA van ses kleinkinders is erg getraumatiseerd nadat sy twee weke gelede in hegtenis geneem is vir winkeldiefstal. Petra de Swardt vertel dat sy so sleg behandel is deur winkelpersoneel, dat sy ná hierdie ervaring sielkundige behandeling ondergaan en ook medikasie moet ontvang. Die hele nagmerrie het voorverlede Saterdag begin toe De Swardt om 12:00 oudergewoonte inkopies gedoen het by die Paarl Mall, ook by Woolworths. “Ek het ’n rokkie vir een van my kleinkinders wat binnekort verjaar uitgekies. Hierna is ek na die kruideniersafdeling van Woolworths. Ek het my handsak bo in die uitskuif gedeelte van trollie gesit met die rokkie bo-op, en kos gaan koop. “Toe ek by die betaalpunt kom, het Francois Isaacs my gehelp. Hy het nog gevra of ek die rokkie gaan koop en ek het gesê nee, ek gaan dit terugsit. “Hy het my sakke in die trollie geplaas, ek het die rokkie gaan terugsit en na die uitgang ge- stap.” Maar De Swardt se vrolike inkopiedag het híér tot ’n lelike einde gekom. By die uitgang van Woolworths is sy deur ’n sekuriteitswag genader en haar trollie is deursoek. Langs haar handsak het hy twee pasteie gevind. Hy het haar gevra of sy daarvoor betaal het en De Swardt het aan hom erken sy het hulle skoon misgekyk en vergeet om daarvoor te betaal. “Ek het aan hom gesê dat ek dadelik daarvoor sal gaan betaal, maar hy wou niks weet nie. “Ek is hardhandig behandel en hy het my na ’n kamertjie geneem waar ek fisies deeglik deursoek is. Hulle het ook die polisie geskakel.” Met die aankoms van lede van die polisie was hulle baie apologeties, maar hulle het aan haar gesê dat aangesien Woolworths daarop aandring om ’n klag van winkeldiefstal teen haar aanhangig te maak, hulle moet optree. De Swardt is na Paarl polisiestasie geneem waar haar vingerafdrukke en foto’s geneem is. De Swardt is in ’n polisiesel by die polisiekantoor geplaas en is eers ná 17:00 die middag vrygelaat ná aandrang van haar prokureur. Sy het Maandag in die Paarl Landdroshof verskyn en moet weer in November voor die landdros verskyn. “In Francois Isaacs se verklaring aan die polisie het hy aan hulle erken dat hy die pasteie in my trollie gesien het toe ek vir die ander kruideniersware betaal het, maar hy het niks gesê nie. “Hoekom het hy dit nie aan my uitgewys nie? In plaas daarvan het hy die sekuriteitswag se aandag op my geplaas en my geweldige leed aangedoen.” “Ek is in remissie nadat ek borskanker gehad het en ek lei aan hoë bloeddruk. Woolworths het regtigwaar nie nodig gehad om my so te behandel nie. “Ek koop al baie jare lank al my kruideniersware en klere by Woolworths. Hulle ken my hiér, want ek koop elke week hier. Ek is nou baie teleurgesteld in hulle.” De Swardt sê dat wanneer haar onskuld bewys word, gaan sy verdere regsadvies inwin oor haar vals arrestasie. Glenn Gilzean, Woolworths groepdirekteur van kleinhandel, het gesê dat die maatskappy misdaad baie ernstig opneem. ”Alle gevalle van beweerde diefstal word ondersoek en aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek. “Woolworths sal beeldmateriaal vanaf sekuriteitskameras fynkam om beweringe teen ons werknemers te evalueer.“ * A grandmother landed up behind bars after she mistakenly did not pay for two pies left in her trolley at Woolworths in the Paarl Mall.
More
News
|