Aikido-instrukteur kry toekenning
2011-08-04
’n BEKENDE in aikido-kringe in die Paarl, Elroy Goliath, het onlangs van Europa teruggekeer waar hy sy gradering vir 4de dan ontvang het. Wat dié toekenning betekenisvol maak, is dat Goliath die eerste en enigste in Suid-Afrika is wat die gradering ontvang het vanaf ’n Japanese Shihan. Die Shihan is Yoji Fujimoto (8ste Dan). Goliath is vergesel deur drie van sy studente. Hy vertel dat dit ’n eksklusiewe oefenkamp in Switserland was vir Europese seniors onder leiding van Fujimoto en dat dit baie fisies en uitputtend was. “Dit was tien dae lank en ons het 6 tot 8 ure per dag geoefen. Die gradering het die laaste twee dae plaasgevind,” sê hy. Goliath beoefen aikido al vir die laaste 17 jaar en sê dat aikido se oorsprong in Japan was en dat hulle gebruik maak van die beweging en krag van die aanvaller om die situasie te beheer. “Die bewegings is vloeiend en sirkelvormig en jy is nie afhanklik van jou eie krag nie. Dit is dus makliker vir jonger en ouer mense om hulself daarmee te verdedig.” “ Die tegnieke wissel van immobiliserings, uitsluitings (locks & pins), gooie en manipulasie van alle gewrigte van ’n aanvaller en veral ook teen wapens soos messe of ander voorwerpe. “Die voordele sluit effektiewe selfverdediging, soepelheid, koördinasie, fiksheid, gewigsbeheer en verligting van stres in,” sê hy. Fujimoto besoek die Paarl in Desember 2011 en belangstellendes kan vir Goliath kontak by 083 463 4187 of ’n epos stuur na info@aikidosa.co.za.
More
News
|