Verlede speel nie rol
2011-08-04
Sieb Sieberhagen
WENNE en verlore in die geskiedenis van interskolerugby tussen die eerste rugbyspanne van Boishaai en Gim gaan nie Saterdag om 16:00 ’n rol speel wanneer dié twee skole mekaar in die 2011 interskolekragmeting op die Faurestraat-stadion pak nie. Wedstryduitslae in vanjaar se rugbyseisoen en sleutelspelers se vermoë om wedstryde te beheer, gaan volgens vanjaar se kapteins ook nie ’n rol speel nie. Jaco Jordaan, kaptein van Gim, reken sy manne is oorgehaal vir die stryd: “Die manne sien baie uit daarna. Vir die meeste ouens is dit die eerste en die laaste keer dat hulle aan ’n interskole gaan deelneem,” sê hy. Vanjaar het Gim nog nie eintlik die veld aan die brand gespeel nie, maar Jaco reken dat vanjaar se uitslae glad nie ’n invloed op die wedstryd gaan hê nie. “Jy kan hoeveelste op die log lê, maar op interskoledag, is alles heel anders. Die voorbereiding is net soveel meer intens as vir ander wedstryde. “Op daardie dag is ons en hulle aartsvyande, alhoewel baie van ons eintlik baie goeie vriende is,” sê hy. Takkies Reitz, Boishaai se kaptein, wou nie oor ’n wedstryddagplan geheime verklap nie, maar meen dat hulle in die huidige seisoen volgens ’n spesifieke plan speel wat tydens die wedstryde aangepas word. “Die ouens is baie positief oor die interskole en lus vir die wedstryd. Ons speel liewers as ’n span saam. Almal is spesiaal. Sleutelspelers is net een of twee spelers, waar ’n span 15 spelers is,” sê hy. “Daar is ’n paar ouens wat al verlede jaar met interskole gespeel het en heelwat van ons was by die tweede span betrokke, so ons weet wat op ons wag,” sê hy. Verlede jaar se gelykopuitslag gaan nie ’n invloed op Boishaai hê nie. “Vanjaar is ons jaar, maar ons onderskat nooit ’n teenstander nie. Ons doen wat ons moet doen, maar ek wil nie enige voorspellings waag nie,” voeg hy by.
More
News
|