Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wiki sê: "Die Paarl..."

Wiki sê: "Die Paarl..."
 
2011-08-11


Ek het onlangs in die pragtige rooi-en-goud bundels van die “Kennis”-boekreeks wat op my rak pryk, rondgeblaai om te sien wat daarin opgeneem is aangaande die Paarl.

In Deel 1 vind ek ’n stuk oor Stellenbosch en my hoop vlam op. Helaas, net sowat ses Suid-Afrikaanse dorpe en stede word behandel en van die Boland se dorpe kom net Stellenbosch dié eer toe. Genugtig, dis mos diskriminasie!

Ek neem een van die netjiese bruin volumes vandie SESA-reeks (Standard Encyclopaedia of Southern Africa) en kyk onder “P” – inderdaad, bladsy 421: “Paarl, Cape Province.”

Vir die (werklik) oningeligte word die afstand vanaf Kaapstad, selfs die lengte- en breedtegraad verskaf, met hoogte bo seevlak (121 meter) en gemiddelde reënval (760 mm).

Hulle sê nie hoe by laasgenoemde berekening uitgekom is nie – reënval verander tog mettertyd – maar dis juis my punt: nou kan mens gaan kyk hoe vergelyk sulke gegewens met die jongste data, of hoe sodanige gegewens inpas by breër raamwerke.

Die volgende stap sou wees om nog bronne in te samel ter wille van vergelyking. Deesdae sal algar dadelik Google bespring, want dis maklik: jy kliek ’n knopie hier, druk ’n sleuteltoetsie daar ... en siedaar.

G’n afsittery na die biblioteek nie, en wie wil nou ure in ’n argief slyt?

Nou ja, Wikipedia beweer “kommando” is ’n Duitse woord wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het ... haibo, aikôna!

Maar vergelykenderwys, kom ons kyk tóg. Wikipedia sê: hoogte bo seevlak is 137 meter – waarskynlik nie van dieselfde punt gemeet nie? Of het ons 16 meter gestyg sedert 1970?

Ek merk dat Wiki se data al in 2001 ingevoer was, so dis al nege jaar oud. Hier is ’n lekker woordsom vir die onderwysers – laat die leerders uitwerk hoeveel meter die Paarl styg per jaar!

En daar was in 2001 reeds 108 000 mense in die Paarl (binne die munisipale grense?). Seker nie, want net ’n entjie ondertoe staan dat daar volgens die 2001 sensus 82 713 mense in 20 138 huishoudings was binne ’n area van 32,2 vierkante kilometer.

En hier is weer ’n lekker vergelyking moontlik: op daardie tydstip was hier 67,8% “Kleurlinge”, 21,2%“wit”, 10,5% “swart” en 0,5% “Indiërs”.

Daarvan was 85,5% Afrikaanssprekend en net 5,2% Engelssprekend, met 8,5% Xhosa-taliges.

En wat sê SESA? In 1970 was daar 14 370 “wit”, 28 482 “Kleurlinge” (ek gebruik hulle terminologie), 5692 “Bantoe” en 53 “Asiate” ter plaatse.

Behalwe vir die ou terme – snaaks Wikipedia gebruik nie eerder “bruin” nie – is dit ook opmerklik dat die meerderheid inwoners bruin was en steeds is, maar dat die verskil tussen “wit” en “bruin” in sowat drie dekades heelwat vergroot het. (en Wiki beweer die Cochaqua Khoi-khoi stam het eens hier gewoon, ongeveer 18 000 van hulle!).

Verder noem SESA die bekende feite; dat die fiskaal (staatsaanklaer) Abraham Gabbema die Bergrivier in 1657 bereik het en dat die dorp in 1690 De Paarl genoem is, en dat die Strooidakkerk die oudste aanbiddingsplek buite Kaapstad is.

In 1970 was dit die enigste dorp waar ’n wynfees gehou is – van feeste gepraat, ek wonder hoeveel dorpe het nóg nie een of ander fees nie – en dat die Paarl toe die tweede grootste industriële sentrum in die provinsie was: van die ou wamakery na 102 fabrieke, en so kan mens voortgaan.

Maar die belangrikste is nie die feite nie, nie eens of hulle 100% korrek is nie – dis ’n gevoel van intense nostalgie en die klokhelder besef dat jou eie horlosie besig is om al nader aan twaalfuur te tik.

En só is dit met ons elkeen: oor nog drie dekades lees iemand dalk op die Internet wat ons hier lees. En dink; sjoe, ek word oud!

Hopelik sal ons dan nog ’n Strooidakkerk hê, maar die granietkoepels De Paarl en De Diamant sal steeds daar wees, nes Gabbema hulle gesien het, en nes Adam en Eva hulle gesien het – dis nou as die argeoloë reg is dat die Wes-Kaap die Wieg van die Mensdom was!




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za